Die virus wat dekades in jou lyf kan skuil
Gordelroos veroorsaak 'n uiters pynvolle veluitslag wat chroniese pyn tot gevolg kan hê indien dit nie dadelik behandel word nie
VAALPARK. – In November 2021 het Charlotte Bresser, haar man Hans en gesin na die wildtuin vertrek vir ‘n welverdiende vakansie.
Wat sy nie toe geweet het nie, was dat die varicella zoster-virus toe reeds besig was om toe te slaan.
Hierdie virus is dieselfde een wat waterpokkies by kinders veroorsaak.
Die virus bly in ‘n persoon se lyf (rugsenuwee) agter nadat daar van die waterpokkies herstel is.
Dit sal vir jare dormant bly en dan skielik toeslaan wanneer die persoon se immuniteit laag is, die persoon erg gestres is of een of ander fisiologiese of psigologiese trauma ondergaan het.
Die varicella zoster-virus slaan dan uit as ‘n baie pynlike veluitslag bekend as gordelroos.
Charlotte sê sy het die aand begin sleg voel, maar eers die volgende oggend die groot rooi uitslag gehad.
“Ek het nie eens aan gordelroos gedink nie. My man het my na die naaste apteek in Komatipoort geneem. Die apteker het net een kyk gegee en gesê: “Dis gordelroos. Tannie sal dadelik by ‘n dokter moet uitkom,” vertel Charlotte.
“Ek het ons dokter geskakel en hy het ‘n voorskrif vir anti-virale medisyne deurgestuur. Alhoewl ek dadelik die medisyne begin gebruik het, het die pyn en ongemak so oorweldigend geword dat ons, ons vakansie moes kortknip en terugkeer huis toe. Dis nou al meer as 9 weke later en ek is steeds nie heeltemal gesond nie.”
Charlotte sê sy het nou ook ‘n inenting teen gordelroos gekry. “Dit was baie duur, maar die medisyne was nog duurder. Ek wens ek het vroeër van die inenting geweet.”
Die Zostavax inenting teen gordelroos waarborg nie dat ‘n persoon nie die virus sal kry nie, dit help wel dat ‘n persoon dit nie so erg sal kry nie en dit sal die kanse van postherpetiese neuralgie verminder.
Laasgenoemde is ‘n komplikasie wat chroniese pyn tot drie maande of meer nadat die uitslag opgeklaar het kan veroorsaak.
Soms is daar ook permanente senuwee skade en gordelroos naby ‘n oog kan tot blindheid lei.
Die Zostavax gordelroos-inenting word egter nie vir mense onder 60 jaar aanbeveel nie.
Dr. Ashley Müller, algemene praktisyn in Vanderbijlpark, sê ‘n mens kan slegs gordelroos kry indien jy voorheen waterpokkies gehad het.
Iemand wat egter nog nooit waterpokkies gehad het nie, kan wel waterpokkies kry as so ‘n persoon direkte kontak met ‘n ander persoon se gordelroos uitslag het.
Dit is ook moontlik om gordelroos meer as een keer te kry, alhoewel waterpokkies slegs eenkeer opgedoen kan word.
Die virus neem gewoonlik ‘n paar dae om te ontwikkel, maar dis belangrik dat iemand met gordelroos simptome so gou as moontlik die regte anti-virale medisyne kry om dit hok te slaan.
Dr Müller waarsku dat waterpokkies hoogs aansteeklik is en dat veral swanger vroue versigtig moet wees om nie met kinders in aanraking te kom wat waterpokkies onder lede het nie.
“Mense besef nie dat die waterpokkievirus ‘n opportunistiese virus is nie. Dit bly agter in jou senuweestelsel en kan dekades later die uiters pynvolle gordelroos veroorsaak. Iemand wat waterpokkies onder lede het kan tot twee weke die virus aan ander oordra,” het hy gesê.
