Riana en haar sagmoedige reuse
Riana du Plessis is nie net 'n kunstenaar nie, sy het ook 'n groot sagteplek in haar hart vir diere, veral haar Irish Wolfhounds.
VAALPARK.- ‘n Mens sien eerste die honde raak. Luna, Fleur en Daya kom snuffel nuuskierig aan my skoene en klere.
Ek hoef maar net ‘n hand uit te steek om Luna agter haar oor te krap. Al drie is rustige reuse wat vriendelik kennis maak.
Riana du Plessis lyk klein teen die drie Irish Wolfhounds wat saam met ons die huis instap.
“My liefde vir hierdie besonderse honderas kom van my skoonpa. Hy het my leer rooiwyn drink en my eerste Irish Wolfhound, Clara, vir my gegee,” vertel sy.
Dit was in 1985. “Ek onthou die teler het gevra dat ek met haar skou. Ek het, en toe kom sy heel laaste,” beduie Riana.
Na die tyd het die hoofbeoordelaar my geroep en gesê: “Jy het ‘n kampioen skouhond hier, maar jy het haar laat verloor,” onthou sy daardie dae.

Intussen het sy baie geleer en vandag is die Irish Wolfhounds uit die DuRoss Kennel almal kampioene.
“Ons gaan stap elke dag twee keer met hulle en laat hulle in die veld en vlei speel,” vertel Riana.
Die Irish Wolfhounds is nie die wêreld se swaarste ras nie, maar staan die hoogste op hul pote.
Riana het in 2009 begin om honde in te voer vanaf Europa en vandag skou sy nog gereeld met haar honde dwarsoor Suid-Afrika.
Daar is duidelik ‘n besonderse band tussen Riana en die honde. “Ek is baie lief vir diere en is praktykbestuurder by ‘n dierekliniek.”
Riana is ook ‘n kunstenaar. Sy sê sy geniet dit om te skilder terwyl die honde by haar is. “As kind het ons hele gesin geteken,” vertel sy.
“Ek het op George in die Wes-Kaap grootgeword en na skool onderwys aan die Universiteit van Stellenbosch gaan swot.”
Dis ook hier waar sy vir Frits ontmoet het. Hul eerste huweliksjare het hul in Secunda gewoon en gewerk. Frits as ingenieur en Riana as onderwyseres.
Riana was van haar skooldae af gek na sport en sê sy het aan alles moontlik deelgeneem. “Ek het ook al vier keer die Comrades ultra-marathon voltooi,” onthou sy.
Nadat die gesin hulle in 1990 in Vaalpark kom vestig het, het sy by die plaaslike hoërskool betrokke geraak en hokkie afgerig.
Sy self het op skool provinsiale kleure vir hokkie verwerf, maar was ook ‘n uitstekende gimnas en het op universiteit nog aan gimnastiek deelgeneem.
Sy geniet dit steeds om in die aande te gaan draf. Dis nou wanneer sy nie die langpad vat saam met haar honde na die volgende skou toe nie.
Meer inligting oor die Irish Wolfhounds beskikbaar by www.durosswolfhounds.com
