Local newsNewsNews

Kunstige Charlotte Bresser

Charlotte Bresser is nie net 'n bekende in kunsgeledere nie, sy is geliefd onder haar oudleerlinge, studente, vriende en famlilie.

VAALPARK. – Daar is min plekke waar mens sommer met die intrapslag welkom en aan’t huise voel. Hans en Charlotte Bresser se huis is een van daardie plekke.

Met die inkomslag waai Carli Bresser vrolik vanuit haar studio waar sy en nog ‘n danseres Spaanse dansbewegings oefen.

Oral in die huis hang van Charlotte se eie kunswerke en in die gang is daar foto’s van die Bressers se vriende, familie en kleinkinders.

Hans se pa het destyds vanuit Holland na Suid-Afrika geïmmigreer en was een van die eerste werkers om vir SASOL te werk.

In die sitkamer is daar ‘n muurhorlosie wat al sedert 1927 in die familie is. Langs die horlosie is ‘n wit merkie teen die muur.

“Die horlosie moet so bietjie skeef staan, anders werk dit nie,” verduidelik sy van die merkie en Hans beaam dat net hy die horlosie kan stel.

Charlotte is ‘n bekende in onderwys en kunskringe in die Vaaldriehoek. Nie dat sy ooit beplan het om onderwys te gee nie.

“Onderwys het my gekies,” vertel sy en lag. Jare gelede toe hul vier kinders nog jonk was, het sy besluit om binneversiering te begin doen.

“Ek het toe buitemuurs gaan studeer, maar in my tweedejaar toe verwerf ek ‘n beurs om B.Kuns voltyds te swot.”

Nadat sy haar graad verwerf het, het Afrikaanse Hoërskool Sasolburg (AHS) haar genader om vir drie van hul matrieks kuns te gee.

Die skool wou kuns uitfaseer en het nog net die drie kunsleerlinge oorgehad. Sy het ingestem en eers 25 jaar later opgehou om kuns aan te bied nadat die skool besluit het om tog maar kuns as vak te behou.

Later was sy ook eksamen moderator vir kuns in die Vrystaat. “Ek sal altyd dankbaar bly vir AHS se hoof, Dawie Kleynhans. Hy het wonderlike ondersteuning gebied vir kuns in die skool,” spreek sy haar waardering uit.

“Weet jy my eerste leerlinge is nou al 45 jaar oud! Ek loop soms nog in van my oudleerlinge vas en dan sê hulle: “Mevrou het vir my rigting gegee,” vertel sy trots.

Charlotte het amptelik in 2019 afgetree, maar gee steeds kunsklasse by haar huis.

Sy het oor die jare al uitstallings gehou en van haar werke, (kuns sowel as geskrewe stukke) is al in drie van die digter en skrywer, Myra Lochner se bundels opgeneem.

Intussen werk sy ook hard aan haar eie boek wat gaan bestaan uit haar reistekeninge en staaltjies wat by elke waterverftekening pas.

Na al die jare geniet sy dit steeds die meeste om met waterverf te werk.

Charlotte is ook ‘n voëlkyker en sy vang gereeld verskillende voëltjies met haar kwas vas.

“Ek is ook lief om kerke en kruise in my skilderye in te bring,” beduie sy.

Elkeen van haar kunswerke vertel hul eie verhaal en straal dieselfde vriendelike warmte uit as die een wat hul geskep het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button