Local newsNewsNews

Inwoners spandeer sélf miljoene om slaggate in buurt reg te maak

Die organisasie Proudly Three Rivers het die afgelope jaar (2021) alleen meer as ‘n miljoen rand spandeer om slaggate in Drie Riviere reg te maak wat die sukkelende Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit nagelaat het om dit te doen.

VEREENIGING. – Proudly Three Rivers is nou in terme van artikel 14 van die maatskappywet as ‘n openbare weldaadsorganisasie (PWO) geregistreer, met die eksklusiewe mandaat om die buurt van Drie Riviere te restoureer en in stand te hou.

Die feit dat die organisasie nou as PWO geregistreer is beteken dat mense wat tot die organisasie bydra, hul bydraes van belasting kan aftrek.

Die organisasie hou paaie, sowel as sypaadjies en parke in stand en doen ook ander instandhoudingswerk in Drie Riviere.

Riaan van der Merwe, Proudly Three Rivers se komiteelid vir administrasie, het tydens ‘n onlangse publieke vergadering wat op 22 Januarie by Three Rivers Lodge gehou is, ‘n uiteensetting gegee van kostes wat die afgelope jaar aangegaan is:

*Volgens Van der Merwe het Proudly Three Rivers in die laaste jaar (2021) altesaam 4700 25kg sakkies teer ter waarde van R300 000 (insluitend 3 700 sakkies wat teen ‘n laer prys geskenk is) gebruik om paaie in Drie Riviere reg te maak.

*Proudly Three Rivers het ook 60 120ℓ dromme vloeibare bitumen ter waarde van R120 000 vir die instandhouding van paaie gebruik.

*Meer as 55m³ sand en asvulsel (waarvan 10m³ geborg is) is gebruik om gate te vul. *Meer as 7 500ℓ brandstof is uitgery om slaggate te vul. *Personeelkostes alleen het R922 853 beloop.

Mac Sefume, Mlungisi Dube, Simba Ngwenya en Patrick Keenya van Proudly Three Rivers herstel slaggate in Drie Riviere. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Van der Merwe doen die organisasie hul maandelikse werk om paaie te verbeter en parke en sypaadjies in stand te hou teen maandelikse koste van ongeveer R100 000.

Van der Merwe sê die organisasie is dankbaar vir inwoners wat maandeliks tot die organisasie bydra.

Hy het ‘n beroep op inwoners wat nog nie betrokke is nie gedoen om ook by Proudly Three Rivers betrokke te raak.

Daar is tans ongeveer 414 inwoners wat bydra, terwyl die buurt van Drie Riviere na raming 7 000 huishoudings het. Om dinge in perspektief te stel is dit ongeveer 6% van die buurt se inwoners wat tot die organisasie bydra.

Daar is tans altesaam 82 skenkers in Drie Riviere- Oos, 153 skenkers in Drie Riviere Proper, 76 skenkers in Drie Riviere, 8 skenkers in Klipplaatdrif en 78 besighede en 17 komplekse wat die tot die organisasie bydra.

“Indien ons ons inkomste van 100 000 per maand tot omtrent 200 000 of 300 000 kan laat groei, kan ons soveel meer doen,” sê Van der Merwe.

Volgens hom was daar die afgelope jaar ‘n afname in die getal inwoners wat tot Proudly Three Riverers bydra, hoewel die organisasie se inkomste meer is as die vorige jaar.

Van der Merwe het individue en instansies bedank wat toerusting soos groot voertuie, laaigrawe, grassnyers (ter waarde van R50 000), kragopwekkers (ter waarde van R30 000), sowel as bakkies sleepwaens en trekkers (ter waarde van meer as R700 000), sowel as tuingereedskap aan die organisasie geskenk het sodat hulle hul werk kan doen.

Herstelwerk word gedoen in ‘n straat in Drie Riviere. Foto: Christiaan Cloete

Chris Johnsen, die voorsitter van Proudly Three Rivers se komitee, het inwoners gerus gestel dat hoewel baie mense dink dat dit erg gaan in Suid-Afrika en veral in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, is daar plekke elders in die wêreld waar inwoners groter uitdagings ervaar.

Hy het die voorbeeld van die Oekraïne gebruik waar daar tans ‘n oorlog dreig en ander plekke ter wêreld met veel meer onstabiele klimate. Johnsen het ‘n beroep op mense gedoen om betrokke te raak by die organisasie en te help om die goeie werk wat hulle doen te befonds.

As jy in Drie Riviere bly in ‘n bydrae wil maak, besoek Proudly Three Rivers se Facebook-blad, Twitter-profiel, webwerf by https://proudly3rivers.showme.co.za/ of stuur ‘n e-pos aan info@proudly3rivers.co.za om te hoor hoe jy betrokke kan raak. Proudly Three Rivers het ook ‘n kantoor in die River Square Winkelsentrum.

Dit kos Proudly Three Rivers ongeveer R100 000 per maand om slaggate in Drie Riviere toe te stop en parke in stand te hou. Jaarliks beloop dit meer as ‘n miljoen. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button