Bolhuis trek berugte bedrieër vas
Dit het die week op sosiale media gegons toe die 33-jarige Emile de Witt, wat verskeie inwoners uit geld verkul het, weer inhegtenis geneem is.
VANDERBIJLPARK. – Dit volg nadat Specialized Security Services met bobaasspeurder, Mike Bolhuis, aan die spits in samewerking met die polisie en die kinderbeskermingseenheid geswoeg en gesweet om hom vas te trek.
Daar is verskeie aanklagte teen De Witt. In die Vaal word hy aan verskeie bedrogsake verbind.
Vaalweekblad het in 2020 berig toe De Witt in hegtenis geneem is op klagtes van onder meer wanvoorstelling, bedrog, diefstal en die besit van gesteelde goedere.
De Witt het Vrydag, 11 Februarie, vlugtig in die hof in Vanderbijlpark verskyn. Ten spyte van die hitte het hy ‘n dik kamofleerbaadjie gedra. Familielede het voor die hofverrigtinge ‘n gebedskringetjie gevorm om vir hom te bid.

Sy ma het in die hofbanke gesit met blou klere en ‘n donkerbril.
De Witt het meestal strak voor hom uitgestaar, maar elke kort-kort van agter sy dik brilglase vir flitsende kameras geloer.
Cornel Grobler, die staatsaanklaer, het aangedui dat die staat De Witt se borgaansoek sal teenstaan.
Die staat het vir uitstel gevra tot Maandag 21 Februarie aangesien die staat klagtes tot die klagstaat wil voeg en die ondersoekbeampte nie op 14 Februarie en 16 Februarie beskikbaar is nie.
Dan is daar ook die kwessie van ‘n alternatiewe adres wat De Witt verskaf het as sy adres. Die staat het tyd nodig om dié alternatiewe adres te verifieer alvorens die borgaansoek kan begin.
De Witt se prokureur, Grant van Bochove, het gesê dat De Witt geregtig is om op die vroegste moontlike datum wat redelikerwyse beskikbaar is sy borgaansoek te bring.

Van Bochove het aangevoer dat De Witt se moeder teenwoordig is en die beskuldigde se alternatiewe adres kan verifieer.
Oor die kwessie van klagtes wat die staat tot die klagstaat wil voeg het Van Bochove gesê dat die staat sedert Novembermaand die saak ondersoek en dat hulle oorgenoeg tyd gehad het vir dit. Van Bochove meen die feit dat die staat tyd nodig het vir verdere ondersoek dui daarop dat De Witt se inhegtenisname voortydig was.
Hy het aangevoer dat die polisie seker moes gemaak het van hul saak voor die inhegtenisname.
Van Bochove het aangevoer dat indien die saak tot Maandag 14 Februarie uitgestel word, dit die staat oorgenoeg tyd sal gee om De Witt se alternatiewe adres te verifieer.
Landdros Taz Rampersadh het gelas dat hoewel die beskuldigde geregtig is om op die vroegste moontlike datum wat redelikerwyse beskikbaar is sy borgaansoek te bring, die staat ook geregtig is op sewe dae om hul ondersoek te finaliseer en dat die staat die geleentheid gegun moet word om te doen wat hulle moet doen.
Die saak is tot Maandag 21 Februarie 2022 uitgestel.
De Witt bly in aanhouding tot dan.
