Local newsNewsNews

Hs Driehoek nou deel van ‘n Beter Vanderbijlpark

Indien individue, besighede, skole of tehuise by die Better Vanderbijlpark Projek betrokke wil raak, kan hul vir Kobus kontak by 082 452 5256. #trotsvanderbijlpark #vanderbijlparkonsdorp #vanderbijlparkonsmense

VANDERBIJLPARK – Hoërskool Driehoek het genoeg gehad van die slegte paaie rondom die skool.

Skoolhoof, Ricardo Erasmus sê daar ry bykans ‘n 1000 motors daagliks om die skool. Die onderwysers was ook moeg om elke dag deur slaggate skool toe te moes ry.

Die beheerliggaam van die skool is genader om te help plan maak en na vele beraadslaging is daar besluit om die span van Better Vanderbijlpark te nader.

Better Vanderbijlpark is ‘n inisiatief begin deur Koos & Mike used cars wat prakties uitgevoer word deur Kobus Griesel en sy span.

Die skool se beheerliggaam het gelde bewillig wat aan Better Vanderbijlpark oorbetaal is om sakkies teer te koop.

Kobus en sy span het die eerste week in Februarie ingespring en al die slaggate rondom die  skool herstel.

Johan de Villiers van  Hoërskool Driehoek se beheerliggaam het gesê hulle het die geld vir die teer  voorsien om drie van die paaie om die skool reg te maak.

Die manne op pad om ‘n herstelde slaggat te gaan uitwys. Die verkeerskegels moes keer dat niemand ons raakry terwyl ons in die middel van die pad staan en foto’s neem nie. Foto: Gerda Bruinette

Die vierde straat, Macowen, is blykbaar verlede jaar deur een van die politieke partye herstel.

“Ons is baie dankbaar vir die hulp wat ons ontvang het. Driehoek is nou deel van die Better Vanderbijlpark projek. Ek dink ons is die eerste skool wat amptelik hierdie projek onderskryf en ‘n bydrae lewer,” het Ricardo gesê.

Kobus Griesel het weereens sy dank uitgespreek teenoor al die besighede en individue wat maandeliks ‘n bydrae lewer om die projek aan die gang te hou.

“Ons vorder goed met die instandhouding van die meeste boulevards. Maar as ons net 100 besighede kan kry om elke maand ‘n R1 000 of meer te skenk, dan sal ons weer almal trots kan wees op ons dorp,” het Kobus verklaar.

“Tot een van die ouetehuise, Herfsoord, het al skenkings gemaak! Mense moet begin besef as jy nie deel is van die oplossing nie, dan is jy deel van die probleem. Ons kan en ons sal Vanderbijlpark weer mooi en netjies kry. Kyk net hoe mooi lyk die hele Frikkie Meyer Boulevard al!” het Kobus bygevoeg.

Die volgende boulevard waar hulle die slaggate gaan begin regsien is Rossini boulevard.

Onthou… Waai vir die rooi trekker en wees asb geduldig waar die werkers doenig is. Hulle probeer net help! Foto: verskaf

Kobus het weer ‘n beroep op motorbestuurders gedoen om asseblief versigtig te ry waar hul besig is, hetsy met die nou al bekende rooi trekkers of waar die spanne slaggate regmaak.

“Daar is steeds mense wat ons uitskel en dit terwyl ons net ‘n verskil wil maak,” sug hy, maar glimlag dan weer “ag, daar is baie ander wat dankbaar is en dit begin al beter lyk in ons dorp.”

Dis wat tel. Die saamstaan en saamwerk. Basta met die munisipaliteit. Hulle het hul eie probleme om uit te sorteer. Ons dorp. Ons mense.

Soos Ricardo sê: “Ek sê dankie vir mense soos Kobus. Ek weet nie hoe om ‘n slaggat reg te maak nie, maar hulle weet en daaroor is ek bly.”

Driehoek se matriekraad beplan ook om in die nabye toekoms die veld by Laerskool Kollegepark te gaan opruim.

Kobus het belowe hulle sal help gras sny en die trekkers bring om die vuilgoed weg te ry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button