Emfuleni, staatsdienswerkers maak Vereeniging-middestad skoon
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het Vrydag 11 Februarie 2022 hande met ander staatsdepartemente gevat om die gebied naby die Mark Park Winkelsentrum in Vereeniging se middestad skoon te maak.
VEREENIGING. – Volgens rdl. Prucence Hlanyane, wyksraadslid vir Vereeniging se middestad, Leeuhof en Peacehaven, is daar die afgelope tyd baie klagtes oor die stand van die middestad ontvang.
Volgens Hlanyane het werkers van die departement van omgewingsake, die departement van afvalbestuur, die departement van gesondheid, Emfuleni se elektriese afdeling, die verkeersafdeling en selfs die departement van binnelandse sake hul moue opgerol en met die skoonmaakpoging gehelp.
Selfs die Gautengse LUR vir padveiligheid, Faith Mazibuko, het ‘n draai kom maak!

Emfuleni se burgemeesterskomteelid vir omgewingsake, Jonas Radebe, sê dit is die derde week in ‘n ry wat Emfuleni en ander staatsdepartemente hande bysit om die strate in Emfuleni skoon te maak.
“Ek het die program van stapel gestuur want ek het gesien hoe ons dorpe oor die afgelope paar jaar agteruitgegaan het.
“Die toestand van ons dorpe skep ‘n beeld van munisipaliteite en dit is belangrik om ‘n goeie indruk te skep.
“Ons wil graag omverskoning vra vir die wyse waarop ons dorpe agteruitgegaan het,” sê Radebe.
Volgens Radebe is dit nie ‘n eenmalige ding nie.
Hy sê die munisipaliteit en ander staatsdepartemente gaan van nou af weekliks gebiede in Emfuleni skoonmaak en dit skoon hou.
“Ons kan nie bekostig om in ‘n onhigieniese omgewing te bly nie,” sê hy.


