Ek sê maar net…
My ouma sou gesê het dis boereverneukery, maar ek sê maar net dit sal help as advertensie, rak en kasregisterpryse ooreenstem
Dis nou al jare se ding. Die oomblik as die Ster in ons hek beland, dan lees Ma eerste die specials, of dan nou in beter Afrikaans, die spesiale aanbiedinge.
Dan word daar nou lysies gemaak oor wat is waar teen watter prys bekombaar. Sy werk ‘n roete uit sodat ons net eenkeer hoef te ry en ek wonder oor my seer voet en die werk wat wag.
Maar die eintlike dinge wat my nou so kan pla oor die spesiale aanbiedinge is dat van die winkels nou nie altyd so, sal ek met permissie sê, eerlik is nie.
Die kleurvolle blaadjie vertel vir jou een ding, maar die prys op die rak ‘n ander.
Kom jy by die kasregister word die spesiale prys wel gelui, maar as jy nou nie geweet het nie?
Dan’t jy nou maar ‘n ander produk (goedkoper as die ander een se normale rakprys, maar duurder as die spesiale prys), geneem.
En slaat my om met ‘n nat snoek, daardie dag was dit ampertjies ‘n ou droë hamburger.
Die betrokke winkel se specials het sommer self oor my bakkiesbladskerm geflits soos advertensies nou maar maak.
Van dit het nie vir my te sleg gelyk nie, onder meer ‘n hamburger vir ‘n goeie prys. Ek en Ma gaan maak ‘n draai.
Kry van die ander spesiale aanbiedinge, maar toe ons by die kosafdeling gaan vra, slaan daardie mense “blank”, soos ons op die PUK gesê het.
Naderhand staan die afdelingsbestuurder met my selfoon in die hand en staar na die betrokke winkel se eige advertensie vir daardie betrokke dag asof die ding hom gaan byt.
Hy is toe brom-brom na agter oor “mense wat hom nie inlig nie.”
Maar teen daardie tyd het ons ook al die brommers op die weliswaar bedekte kos (maar ek gril steeds) waargeneem en ons liewer uit die voete gemaak.
Dan was daar ook al die kere wat Ma met ‘n advertensieblad in die een hand en ‘n kasregisterstrokie in die ander vasgestaan het totdat ‘n prys reggemaak is.
Dis dan wanneer ek so in my binneste dink, berge val op my en heuwels bedek my!
Ek laat eerder ‘n winkel wegkom met ‘n verkeerde prys as om ‘n konfliksituasie te betree.
As winkels tog net wil doen soos hul adverteer. Ek sê maar net …
