Ma gee hartseer storie ‘n gelukkige einde
'n Ma van Leeuhof wat in 2010 haar driejarige dogtertjie in 'n fratsongeluk verloor het, het haar pynlike en erg traumatiese ervaring in iets positiefs omskep deur iets vir behoeftige kinders van haar gemeenskap te beteken.
VEREENIGING. – Anne-Marie Slabbert hou sedert 2013 elke jaar die Mekayla Memorial Kersparytjie waartydens sy jaarliks ongeveer 500 kinders by haar huis bederf.
Die Kerspartytjie is aan haar eie dogtertjie Mekayla (3) opgedra wat in 2010 naby die Leeuhof-kafee in ‘n fratsongeluk gesterf het toe sy deur ‘n vragmotor raakgery is.
In 2013 het Anne-Marie besluit om ‘n Kersfeespartytjie in Mekayla se naam vir minderbevoorregte kinders van Leeuhof te reël.
Dit was die begin van die jaarlikse Mekayla Memorial Street Party in Leeuhof: ‘n Geleentheid waar Leeuhof se kinders, wat byna almal uit gesinne kom waar daar groot werkloosheid en armoede heers, vir ‘n dag lank die vreugde van Kersfees kan beleef.
Dit het uiteindelik tot die totstandkoming van Mekayla Memorial, ‘n nie-winsgewende organisasie gelei.
Die organisasie is in 2018 as ‘n nie-winsgewende organisasie gergistreer en het ten doel het om skenkings en donasies vir die kinders van Leeufhof in te samel en deur middel van hul sopkombuis maaltye aan behoeftige kinders van die woonbuurt te voorsien.
Die organisasie beplan ‘n noteraai-kompetisie op 27 Augustus 2022 waar verskillende maatskappye en individue ‘n tafel kan koop en deelneem aan ‘n aand van pret, samesyn en spanbou.
“Ons het gelukkig intussen befondsing ontvang van ‘n barmartige samaritaan om die lokaal te verseker. Enige skenkings of deelname sal baie waardeer en verwelkom word,” vertel sy.
“Dit sal wonderlik wees as ons vir jou ‘n tafel kan bespreek by hierdie vervulde geleentheid,” sê sy.
Mense wat bereid is om by te dra kan vir Anne-Marie Slabbert skakel by 082 492 9172 of ‘n e-pos stuur aan mekaylamemorialnpc@gmail.com
