Local newsNewsNews

Soos vinkel en koljander, soek die een en kry die ander

Hierdie vriende van Laerskool Voorwaarts ondersteun mekaar in alles en elkeen droom groot.

MEYERTON. – Duhandré Janse van Rensburg en Meagan Rielander is albei graad 7 leerling aan die Laerskool Voorwaarts.

Die twee is al vriende van graad 1 af en doen bykans alles saam. Albei dien op Vories se leerlingraad, en Meagan is ook onderhoofmeisie.

Op akademiese gebied is die twee mekaar se grootste motiveerders en kompetisie. “Meagan behaal gewoonlik die eerste plek onder die Top 10 en ek tweede,” beduie Duhandré.

“Ja, maar jy wen altyd met die wiskunde,” voeg Meagan by. Duhandré is die Sedibeng Wiskunde Olimpiade kampioen van 2018, 2019 en 2021.

Dan is daar die modelkompetisies. Meagan het daarmee begin. “Ek het eers gedans. Alles van hiphop en Jazz tot by Latin-American, maar in graad 3 het ons werk te veel geword en moes ek ophou,” vertel Meagan.

In 2018 het sy met modelwerk begin en sommer algou die titels ingeryg, van Miss Gauteng tot Mini Miss RSA. Sy het Duhandré geïnspireer om ook te probeer.

In 2019 het hy met die Mr. CANSA Vaal titel weggestap en in 2020 was hy eerste prins in die Vaal Pageants se Mr Pre-Teen afdeling.

Die duo is onderskeidelik as Miss Pre-Teen en Mr Pre-Teen by 2021 se Vaal Pageant seremonie gekroon.

Tussen hul akademie, sport en kultuurbedrywighede, wat hul alles op ‘n hoë standaard moet hou, doen hul ook liefdadigheidswerk.

Albei het groot drome vir die toekoms. Meagan hoop om volgende jaar na Helpmekaar Kollege in Johannesburg te gaan en wil graag eendag in ‘n mediese rigting studeer.

Duhandré se grootste wens is om by Grey College in Bloemfontein keuring te kry. “Ek moet nog hierdie kwartaal baie hard werk en ‘n gemiddeld van 96% handhaaf,” vertel hy ernstig.

Na matriek wil hy regte gaan studeer. Hy wil ‘n advokaat word, nes sy groot held, Gerrie Nel.

Die twee is ernstig en uiters professioneel. Ons gesels na skool in een van die klaskamers. Buite ding hul maats op die atletiekveld mee.

Dan begin die oë vonkel en die stywe professionaliteit gee so bietjie skiet. Van hul maats trek vir hul gesigte.

Ek loer oor my skouer, maar van die nuuskieriges is daar toe net een oor.

“Dis Johan van Rooyen, ons hoofseun en ons groot vriend,” word ek amptelik voorgestel aan die lang seun met die breë glimlag en lagduiweltjies in sy oë.

“Hy het sy eie band,” vertel Duhandré trots.

“Ja, ek was ook al in die Vaalweekblad. Oor ek kan sing en oor ek eenkeer ‘n slang gevang het. Tannie moet net bietjie gaan Google”, lag Johan.

“In daardie geval staan jy sommer ook vir die foto,” bondel ek hom by die ander twee voor die kamera in.

Skielik glimlag almal breed en gemaklik. Soos dit hoort. “Dankie, dit was ‘n eer om met julle te kon gesels,” sê ek, en bedoel dit.

Want al drie hierdie kinders gaan nog hoë hoogtes bereik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button