Local newsNewsNews

Van naderby – ons eie Alice De Jager

Alice De Jager het dalk ‘n sagte hart, maar sy laat haar deur niks of niemand stuit nie.

VANDERBIJLPARK. – Alice de Jager is vrolik, vriendelik en altyd aan die gang. Sy glimlag maklik en haar lag is aansteeklik. Agter die vonkel oë en breë glimlag klop daar ‘n hart vol deernis vir haar medemens.

Daarvan getuig die projekte waarby sy betrokke is as hoof van die Women, Charity and Welfare (WCN) komitee van die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC).

Alice de Jager en die trots van haar bestaan, Martin, Cliriska en Alice.

Sy mag dalk ‘n sagte hart vir mense in nood hê, maar sy het ook ‘n vasberade doelgerigtheid waarmee sy projekte aanpak en doelwitte realiseer.

“Ek kyk na die sagter kant van die lewe en het baie empatie met mense,” vertel sy oor ‘n koppie koffie.

Alice onthou toe die grendelstaat in 2020 afgekondig is.

“Ek en tannie Rita (Benecke) het dadelik bymekaar gekom en gesê ons sal moet plan maak, ons mense sal moet kos kry. Dis toe wat ons die GTCoC se food drive begin het. In daardie groot inperkingstyd het ons 563 000 kospakkies verskaf.”

Dit was in die tyd wat die idee van die gemeenskapstuine by haar posgevat het.

“Jaco Verwey het vir my gesê ons sal nie net kan aangaan om kos uit te deel nie, ons sal self groente moet begin plant,” vertel sy.

Net daar het sy die prosesse in werking gesit en met baie geduld en deursettingsvermoë is die eerste tuin aangelê.

Vandag is daar ‘n netwerk van 27 tuine!

Alice het baie deursettingsvermoë en dink nie twee keer om self in te spring as daar werk gedoen moet word nie.

Dis dié dat sy al op haar dag Makelaar van die Jaar was en in 2019 ook as Sakevrou van die Jaar gekroon is.

Sy is oortuig dat mens meer vermag kry as jy deel is van ‘n groter organisasie waar daar saamgewerk word.

Sy het ook steeds hoop vir ons area en inwoners.

“Ons bly in die Golden Triangle. Hierdie is die area van geleenthede. Ons moet dit net aangryp,” verklaar sy beslis.

Rita Benecke, Alice de Jager, Ruan Vermaak en Klippies Kritzinger op Klippies se verjaardag in 2020 nadat hul kospakkies uitgedeel het.

Haar drie kinders is haar trots en haar lewe. “Ek het twee dogters en ‘n seun. Hulle is eintlik al jong volwassenes, maar hulle bly maar my ou babatjies,” lag sy vrolik.

Wanneer sy kans kry gaan werk sy op “die plaas” by die Rita Benecke Landbouprojek. “Ek vind rus vir my siel daar,” sê sy.

Vir die toekoms het sy nog groot drome, veral om mense te help en weer hul waardigheid terug te gee.

“Ons leer mense hoe om organies groente te kweek. Van die tuine ruil al groente onder mekaar uit. Waar ons ekstra groente het, maak ons pakkies en gaan deel dit onder ander instansies uit.”

Sy het verskeie groot planne en projekte wat sy nog tot uitvoer wil bring en sy gaan dit maak werk.

Alice De Jager het dalk ‘n sagte hart, maar sy laat haar deur niks of niemand stuit nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button