Hoofsweep Rapport: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit verwerf agtste skoon ouditverslag
Die hooffokus by dé munisipaliteit is Deursigtige, Verantwoordelike en Verantwoordbare bestuur.

Deur Raadsheer Phil Pretorius, DA-hoofsweep in die Midvaal-raad
Midvaal se agtste skoon ouditverslag is bevestig deur die Ouditeurgeneraal op die Midvaal-raadsvergadering van 27 Januarie. Skoon ouditverslae kom nie maklik nie en dit het Midvaal ʼn hele aantal jare geneem om die instansie reg te ruk nadat die DA by die ANC oorgeneem het in 2000. Dit vergelyk met ʼn motor wat afdraande maklik vry kan loop maar wanneer jy opdraande swaartrek, is die enjin met al die gekompliseerde parte en brandstof noodsaaklik. Elke skroef en rat is belangrik en in sy plek doen hy/sy, sy/haar werk om die gewenste uitkoms te bewerkstellig.
Ouditverslae kom voor in drie hoofkodes:
i). Ongekwalifiseerd (met of sonder bevindinge) – wat beteken dat die state wat ondersoek is deur die Ouditeurgeneraal geen beduidende probleme bevat nie,
ii). Gekwalifiseerd (met bevindinge) – wat behels dat daar probleme is en sekere aangeleenthede uitgewys word, en dan
iii). Nadelige bevindinge – wat redelike probleme aandui.
Wanneer ʼn munisipaliteit dan ʼn ongekwalifiseerde ouditverslag kry is dit nie soos die populêre media dit vertolk dat die munisipaliteit nie “gekwalifiseer” het nie. Dit dui aan dat positiewe bevindinge gemaak is en word ook na verwys as ʼn SKOON OUDIT in die volksmond. Daar is ʼn wanpersepsie dat ʼn instansie met ʼn skoon oudit volmaak is. Dit is nie akkuraat nie. Die ouditverslag reflekteer dat dit wat die munisipaliteit gesê het hulle gaan doen en dit wat hulle gedoen het en dan ook gerapporteer het in hulle finansiële verslae, evaluerings en jaarverslag akkuraat en korrek is. As die munisipaliteit dus beplan het om slegs 10 nuwe grondpaaie te teer (gravel-to-tar) en hulle het dit gedoen is dit akkuraat en kry hulle die punte. As hulle begroting reg opgestel was en reg gespandeer was, kry hulle die punte. As hulle probleme gehad het met onbeplande nooduitgawes, maar hulle het dit reg hanteer, gerapporteer en die gevolge bestuur, kry hulle die punte. Die hooffokus is dus: Deursigtige, verantwoordelike en verantwoordbare bestuur.
Mens sou aanneem dat dit makliker word om ʼn skoon ouditverslag te bekom as jy al ʼn aantal ongekwalifiseerde oudits vantevore verwerf het. Mens weet mos nou wat om te doen en hoe om dit te doen. Ongelukkig verander die wêreld so drasties dat daar soms nuwe uitdagings is wat die munisipaliteite in die gesig staar en is ʼn volgende ongekwalifiseerde oudit nooit ʼn gegewe nie. So het die COVID-19 pandemie die inkomstes en uitgawes van alle munisipaliteite omvergewerp en word steeds gevoel aan die beursies van almal. Die ongekende goeie reëns het meer padherstelwerk en grassnywerk teweeg gebring en veroorsaak dus aanpassings op die begroting. Midvaal veg egter voort vir deursigtige en verantwoordelike bestuur wat op die Demokratiese Alliansie se partybeginsels gebaseer is. Trotse Midvaal Groete – Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

******************************************************************************
