Vaalpark span nou voetpatrollies in
Geen toleransie of plek vir misdadigers, kwaaddoeners of voornemende misdadigers in Vaalpark nie!
VAALPARK. – Gewoonte misdadigers, opportunistiese kwaaddoeners en voornemende misdadigers kan maar weet daar is vir hulle geen plek in Vaalpark nie.
Hulle moet ook nie dink hulle kan ongesiens in die nag die dorp insluip nie.
Public Eye, die SAPD en vrywilligers patrolleer lankal nie net meer die strate in voertuie nie.
Eers het daar ‘n motorfiets of drie saam met die voertuie begin aanmeld vir diens, toe het die fikses hul fietse begin nadertrek en nou… nou word daar ook voetpatrollies gedoen.

Arrie Coetzee van Public Eye sê die groenstroke word saam met die polisie se taakspanlede so tree-vir-tree gepatrolleer.
Naas die patrollies, vorder die fondsinsameling vir die kameraprojek ook baie goed.
Die Gholfdag wat op 4 Februarie 2022 gehou is was ‘n groot sukses.
“Dit het al ons verwagtinge oortref. Almal het dit baie geniet en ons het by die R62 000 wins gemaak wat ons net so aan ons diensverskaffer, Belrex oorbetaal het,” het Arrie gesê.
Daar word beoog om eersdaags drie torings met kameras by Vaalpark se ingange te hê wat 24/7 deur Belrex gemonitor word.
Die eerste kameras is reeds in werking (alhoewel die toring se enkel oorhang nog met ‘n dubbele oorhang vervang moet word) en lewer positiewe resultate.
“Twee van die kameras het ook outomatiese nommerplaat herkenning wat beteken die sisteem kan dadelik optel of ‘n motor met gekloonde of gesteelde nommerplate ry,” het Arrie vertel.
Die kameras verskaf selfs in die nag gekleurde beelde.

Die tweede en derde torings se bassise is reeds gegrawe en die torings behoort eersdaags opgerig te word.
Arrie het gesê hulle is dankbaar vir twee groot borge wat na vore getree het met die vervaardiging en oprigting van die torings.
Die een is Dawie Vos, hoof uitvoerende beampte van Bhubezi Projects vir die vervaardiging van die staal konstruksie en die ander is Siphiwe Civils wat die beton basisse en die versterking van die torings borg.
“Hierdie borgskappe is vir ons ‘n groot besparing, nou hoef ons net die geld in te samel vir die toerusting,” het Arrie laat weet.
“Dankie ook aan Belrex Innovations vir hulle bydrae met die monitering van die kameras en hulle uiters bekwame Kontrolekamer personeel.”
