Local newsNewsNews

Berugte vermeende bedrieër dreig glo slagoffers met speelgoedgeweertjie

Dit het Maandag 21 Februarie tydens die borgaansoek van Emile de Witt aan die lig gekom dat hy glo getuies met ‘n speelgoedgeweertjie gedreig het om stil te bly.

VANDERBIJLPARK. – Die 39-jarige De Witt wat na bewering verskeie inwoners uit hul geld geswendel het, is onlangs deur die polisie en die kinderbeskermingseenheid op onverwante aanklagte in hegtenis geneem.

Die staat staan Emile de Witt se borgaansoek teen.

De Witt het tydens hofverrigtinge sy oë op skrefies getrek, die ondersoekbeampte vanuit die beskuldigdebank aangegluur en kort-kort sy kop geskud toe daar getuig is oor die wyse waarop die beskuldigde glo getuies gedreig het.

Die ondersoekbeampte in die saak, kapt. Blackie Swart, sê die staat het verskeie verklarings van mense bekom wat deur De Witt gedreig en geïntimideer is.

Dit het ook tydens die borgaansoek aan die lig gekom dat getuies glo op ‘n indirekte wyse deur De Witt se handlangers geïntimideer is.

Hy het glo ook ‘n speelgoedgeweertjie wat naby aan die ware Jakob lyk om slagoffers mee skrik te maak.

Hy het glo ‘n vroulike slagoffer gedreig dat hy haar aan ‘n mensehandelsindikaat sou uitlewer.

Swart het tydens sy getuienis gesê dat De Witt baie geld het en dat dit maklik vir hom sou wees hof te ontwyk, sou dinge vir hom te warm raak.

De Witt se regspan het dit gestel dat die beskuldigde sal sê dat hy niemand gedreig of geïntimideer het nie.

Daar is ‘n groot gewag gemaak oor die feit dat daar geen bykomende aanklagte van intimidasie teen De Witt gelê is nie.

Dit het ook tydens die borgaansoek aan die lig gekom dat twee van die slagoffers nog op De Witt se kleinhoewe bly.

Volgens die staat het die vroue geen blyplek nie. Die ondersoekbeampte het hulle aangeraai om te trek, maar ten spyte daarvan bly hulle nog daar.

Die saak is tot 28 Februarie 2022 uitgestel. Landdros Mila Kgobane sal dan uitspraak gee in die borgverhoor.

De Witt bly in  aanhouding tot dan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button