Kollegepark se pretloop van vele kleure
Dit lyk nou na 'n lekker plek om skool te gaan. By Kollegepark is daar altyd iets prettigs aan die gang.
VANDERBIJLPARK. – Wanneer Laerskool Kollegepark ‘n projek aanpak dan doen hulle dit behoorlik.
Net so met die pretloop wat op Vrydag, 18 Februarie gehou is. Die hooftema was reënboogkleure en elke graad het ‘n kleur uit ‘n hoed getrek om te bepaal wie trek volgens watter kleur aan.

Die verskillende grade het toe ook ‘n tema aan elke kleur gekoppel. So het die graad R klasse emotikons (emoji’s) as hul tema gekies en was almal in giggelgeel geklee.
Die graad 1’s se hoofkleur was pers en hulle het op die maat van Barnie die dinosaurus se bekende liedjie die veld betree.
Daar was ook Pink Panthers, Groen Kieme, Blou Ballonne en vele meer. Die jongstes in die skool die graad RR maats was die wit wolkies in die reënboog.

Die middag is afgeskop met ‘n groot parade waar elke graad met ‘n banier voor die pawiljoen verby geloop het – net soos wat die Olimpiese Spele altyd geopen word.
Die prettigste was die hanswors met wilde oranje hare en groot skoene wat vooruit gedans het.
Min sou die skoolhoof, Coenie Herbst, agter die rooi neus en sonbril herken.
Hy het ook later sy deel gedoen, en (sonder die narregewaad), om die baan gedraf.

Marlize Els het gesê: “Ons is ook besig met ‘n herwinningsprojek, en het toe sommer die pretloop ook “herwinbaar” gemaak.
“Ons het soveel herwinbare produkte probeer gebruik soos wat ons kon bv. met die maak van die hoedjies en baniere.
“Die ouers het ook ‘n keuse gehad om die leerders R2 te borg per rondte wat hulle in die halfuur kan loop/hardloop of hulle kon ‘n donasie gee.”
Gaan loer gerus na die video van die dag op Laerskool Kollegepark se Facebookblad. https://www.facebook.com/1423635974/videos/1856240601227707/
