Die Vaal se Mr Universal SA is ‘n man op ‘n missie
Werner Volschenk is 'n jong man met visie om 'n verskil te maak.
VANDERBIJLPARK. – Die Vaal se eie Mr Universal SA, Werner Volschenk borrel oor van opgewondenheid oor sy nuutste projek en besigheid.
Hy is saam met sy tannie Handelien Volschenk direkteure van die nuwe Central South African Pageant (CSAP).
“Hierdie is nie net nog ‘n pageant nie,” verduidelik Werner, “dit gaan nie oor hoe jy lyk of hoe goed jy kan model loop nie. Dit gaan oor die deelnemers se persoonlikheid, of hulle daardie spesiale “spark” het om goeie ambassadeurs vir hul borge te wees.”
Werner het in sy jaar as Mnr Vaal in 2020/2021 besef hoe belangrik dit is om borge te ondersteun, voortdurende interaksie met hulle te hê, as ambassadeurs vir hul op te tree en om ‘n stewige verhoudingsnetwerk op te bou.

“Borge moet voel dat hulle waarde vir hul geld kry en dat die wenners ambassadeurs sal wees wie hul kan vertrou en saam met wie hul ‘n pad kan stap. Daarom sal ons hoofborge deel wees van die span beoordelaars wat die finaliste vir die CSAP kies,” sê Werner.
Inskrywings vir die CSAP se onderskeie afdelings open op 1 Mei 2022 en sal oop wees vir almal in die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga en Noord-Wes provinsie.
Die finaliste sal dan in Oktober bymekaar kom vir ‘n week voordat die wenners aangekondig sal word.
Die finaliste sal ook ‘n kans kry om met al die borge te gesels en beter te leer ken.
Voor die groot kompetisie is hulle egter ook opsoek na die Emissary of CSAP.
“Ons is op soek na iemand wat die gesig en gesant van ons organisasie sal wees. Al die besonderhede is beskikbaar op ons Facebookblad, Central South Africa Pageant – CSAP,” verduidelik Werner.
Hy beoog ook om te verseker dat die manne dieselfde gehalte pryse sal ontvang as die dames.
“Op die oomblik word die manne nog erg afgeskeep as dit by hierdie kompetisies se pryse kom, en ek wil seker maak dat hul dieselfde kwaliteit pryse sal ontvang,” raak hy ernstig.
Dis ook vir hom belangrik dat almal wat deelneem die kans gegun sal word om te wees wie hul is.
“Ek wil stigmas afbreek en deelnemers help om selfvertroue te bou en hul toe te rus om hul beste te kan gee, sonder om te verander wie hul inherent is.”
Vir Werner, wat reeds mentor is vir verskeie ander titelhouers, is dit belangrik om goeie verhoudings te bou en te handhaaf.
“Onthou jy, ek het in ons eerste onderhoud in 2020 gesê ek wil ‘n verskil maak vir borge en deelnemers, en dis presies wat ek nou kan doen.
“Tot dusver het ons nog net positiewe terugvoer gekry en ‘n hele paar besighede het al hand opgesteek en ingekoop. Ek is so geseënd en dankbaar,” en hy glimlag sy besonderse glimlag wat sy oë van lewenslus laat straal.
