Local newsNewsNews

Dick Fourie: Die oudburgemeester na wie die stadion vernoem is

Die Dick Fourie Stadion in Vereeniging is na 'n oud-burgemeester van die stad, mnr. Dick Fourie (4 Augustus 1897 – 19 Augustus 1988), vernoem. Mnr. Fourie het ’n belangrike rol in die ontwikkeling van sport in Vereeniging gespeel.

Mnr. Secundus (Dick) Fourie, tweede oudste seun van mnr. Johannes Stephanus en mev. Maria Barendina Fourie is op 4 Augustus 1897 in Heidelberg, Transvaal gebore. Hy het sy skoolloopbaan by die Hoër Volkskool in Heidelberg voltooi.

Hy tree op 5 Desember 1930 in die huwelik met die jongste dogter van mnr. en mev. W.J. Witsche, Maria Johanna (Mimi), van Tulbach, Kaapprovinsie. Mnr. Fourie het sy loopbaan in Heidelberg as ’n klerk by die prokureursfirma van A.L. Reitz begin. Laasgenoemde is die  kleinseun van President Reitz. Daarna het hy sekretariële werk op Heidelberg gedoen. Vanaf 1928 was hy verbonde aan Stewarts & Lloyds tot 1968 en ook Direkteur en Voorsitter van die United Bouvereniging.

Wat sport betref het mnr. Fourie ’n belangrike rol in die sportgeskiedenis van Vereeniging gespeel. Hy het lank vir Vereeniging tennis gespeel en word in 1933 as die eerste voorsitter van die Vereeniging Amateur Sport Unie aangestel, ’n amp wat hy vir 50 jaar beklee het. Verder was hy verbonde aan die Suid-Transvaal Rugby Unie, President van verskeie sportklubs, onder andere Maccauvlei Gholfklub en die Vereeniging Wedrenklub.

In 1935 is hy verkies tot Stadsraadslid en in 1938 het hy vir die eerste keer Burgemeester van Vereeniging geword. In 1946 is hy aangestel as Vredevegter in Vereeniging (Kliprivier). Hierna was hy sewe keer as Burgemeester gekies, tot en met 1967. Hy was 29 jaar verbonde aan die Stadsraad. Vanaf 1935 tot 1950 en toe weer van 1963 tot 1977 – ‘n totaal van 29 jaar.

In 1972 het hy ere-burger van Vereeniging geword. Verder was hy ook ‘n lid van die Hospitaalraad, voorsitter van Avondrus Ouetehuis en gewese President van die Rotariërs.

Mnr. Tertius Oosthuizen het Fourie tydens ’n ete van die Rotariërs op 28 Junie 1972 as volg beskryf: “We sometimes meet an original gentleman, who if manners had not existed, would have invented them.” – Bron: Die Vereeniging Sport Museum by Dick Fourie Stadion.

‘n Portret van mnr. Dick Fourie, oudburgemeester van Vereeniging wat ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van sport in die stad gespeel het. Foto: Vereeniging Sport Museum/Dick Fourie Stadion

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button