Local newsNewsNews

Ek sê maar net …

Dis swaar dra al aan die een kant, want die sakke word oorlaai en luister is min.

Wie onthou nog die ou volksliedjie, Vat jou goed en trek Ferreira? Die stukkie wat deurentyd herhaal word is, “swaar dra al aan die een kant, swaar dra al aan die een kant.”

Steek die lied weer viervoet in my kop vas toe ek my Yankee Mich se kattebak oopmaak. (Jinne, dis nog ‘n ding, waar kry ons die woord kattebak vandaan? Dit klink geweldadig!)

Allegeval, staan ek en staar na die vol inkopiesakkie agter in die Yankee. My armspiere begin sommer by voorbaat pyn, want mense, is daai sakke oorlaai!

Ook nie die eerste keer nie, en sekerlik nie die laaste keer nie. Maar, elke liewe winkel waar ons gaan draai (en met Ma se inkopietogte agter specials aan het sy ‘n handvol plekke wat ons gereeld besoek) word sakke dieselfde gepak.

AL die bottels in een sak. AL die blikkies in ‘n ander. Ter enige tyd kan ‘n sak (en hier praat ons van daardie verderflike dun sakke) met tussen 6kg, 8 kg en meer gelaai wees.

Dalk is dit ‘n gemaklike gewig vir sterk jongmanne en vroue wat nog kans sien vir gewigte lig in die gym, maar ek is bevrees dis te veel vir my en ma.

Elke liewe keer by die betaalslag dan vra ek in my beste Engels, en soms in Afrikaans, dat hulle nie die sakke so swaar moet maak nie.

Eerstens betaal ek vir elkeen van daai sakke, so dis nie vir ‘n pakker om te besluit hoeveel sakke ek mag kry aldan nie, en tweedens het ek nie ‘n winkeltrollie tuis nie.

Die afstand tussen my Yankee onder die afdak en die agterdeur kan rek tot ‘n kilometer as mens met ‘n sak vol bottels in elke hand loop wat sulke dun strepies in jou vingers insny terwyl die sak self enige oomblik kan meegee.

Bereken daarby Her Royal Naughtyness Heidi, Baba Bessie en Kleinsus Antjie wat al onder my voete in, dan kan die hele affêre gevaarlik raak.

Dis nou dié dat ek wonder of hierdie grote supermarkte en ander kruidenierswinkels in ons midde nie tog groot asseblief hul pakkers wil leer om nie die sakke te oorlaai nie.

Nou die dag het daar so ‘n jongerige blonderige dame met dun rooi lippe in ‘n winkel-amper-bestuurder-uniform my hoeka so vuil kyk gegee toe ek net vir die pakker vra om nie albei bottels in een sak te sit nie.

Toe dag ek, ag my jinne mens, moes jy nog nooit swaar pakkies ronddra nie?

Of is ek nou die enigste in die heelal wat liewer twee keer motor toe en terug sal loop om alles ingedra te kry as om my bo-arm spiere met een slag te skeur en daarna met al die mediese onkostes te sit?

Of nog erger… ‘n oorlaaide sak skeur en dan moet mens pick-up inkopies speel! En dit is so duur deesdae.

Maak ‘n plan ooms en tantes in beheer van die winkels. Asseblief man. Ek sê maar net…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button