Local newsNewsNews

Hein (van ringtennis tot die politiek)

Ringtennis entoesiaste ken hom goed en nou dien hy ook op politieke rade. Vaalweekblad het met Raadslid Hein van der Lith gaan kennis maak.

VANDERBIJLPARK. – Hein van der Lith lag lekker as ek hom uitvra oor sy profielfoto op Facebook. Op die foto staan hy mos langs Arnold Schwarzenegger.

Die einste oudgoewerneur van Kalifornië in die VSA en akteur van vele aksiefilms.

“Ek vertel vir mense ek en ou Arnie is groot huisvriende, en hulle glo my nogal,” vertel Hein en sy oë vonkel.

Hy onthou die dag wat hy die oproep ontvang het. “Ek antwoord my foon en daar is ‘n vrou met ‘n vreemde aksent wat met my praat.

“Ek verstaan nie ‘n woord nie, maar toe hoor ek iets van ‘hold on’.

“Man, en die volgende oomblik sê iemand: ‘This is Arnold’ en ek vra, ‘why are you calling me?’, beduie Hein.

Arnold van die VSA en Hein van die Vaal. Foto: Verskaf

“Ek het selfs na die oproep steeds eers nie geglo dit was hy wat gebel het nie,” skud hy kop.

Maar op Saterdag, 18 Mei 2019 het Hein van Vanderbijlpark en Arnold van die VSA mekaar ontmoet.

“Ons afspraak was vir een namiddag. Vyf voor stap ek na die plek toe, en almal is so vriendelik. Waai vir my so ver as ek loop,” vertel Hein en die oë vonkel weer, “en ek waai toe nou maar vir die vriendelike skare terug.

“Totdat ek besef hulle waai eintlik vir die groot man agter my!” Hein en Arnold het ‘n uur lank gesels met goeie gevolge.

Ringtennis is amptelik deel van die Arnold Classics. Ringtennis, tradisionele korfbal en pluimbal lê Hein na aan die hart.

“Ek was nie ‘n goeie sportman op skool nie. Om die waarheid te sê, op skool het ek net genoeg gedoen om nie slae te kry nie.”

In die vroeë 80’s het sy paaie met ringtennis en tradisionele korfbal gekruis en sedertdien is hy aktief by albei betrokke.

Hy was al speler, afrigter, spanbestuurder, president, voorsitter en visepresident van elke raad en span wat daar is vir ringtennis in Suid-Afrika en ook ringtennis internasionaal.

Onder sy afrigting het Suid-Afrika in 2010 die Duitsers in Duitsland gewen om die wêreldtitel huis toe te bring.

Dis juis deur sport wat Hein al 24 keer oorsese reise kon meemaak.

y frons oor politieke inmengery in sport en sê om ‘n regverdige sportbedryf in Suid-Afrika te bewerkstellig is een van die redes hoekom hy sy kop in die politieke bynes gesteek het.

Hein is verlede jaar tot die VF Plus se Gauteng Dagbestuur verkies en na die 2021 plaaslike verkiesings ook as ‘n Emfuleni raadslid, vanwaar hy gesekondeer is na die Sedibeng Distriksraad.

Sy eerste politieke aspirasies het in graad 1 ontstaan. “Ons graad 1-juffrou, tannie Florrie, se man, Herman Scroeder, was burgemeester. Hy het die skool besoek met sy burgemeestersketting aan en toe het ek gesê: Eendag wil ek nog vir ‘n dag burgemeester van Vanderbijlpark wees.”

Naas politikus en sportman het Hein ook al verskeie poste beklee, van tronkbewaarder tot slaghuiseienaar in Groblersdal en winkelbestuurder.

Dan het hy ook lank vir die plaaslike munisipaliteit as Bestuurder: Rekreasie, gewerk. Hy het op ‘n kol bedank, maar is die volgende dag weer omgepraat om uit te help as Waarnemende Bestuurder: Biblioteke, ‘n pos wat hy tot 16 Oktober 2021 volgestaan het.

En toe… Toe kom die plaaslike verkiesing en vandag is hy raadslid Van Der Lith. Maar, die vonkel in sy oë is nog daar, saam met die lekker lag en stories vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button