Local newsNewsNews

Kunstedraai – hier kraai die kunste en vriendskap koning

By Kunstedraai in Offenbachstraat, Vanderbijlpark is daar altyd iets aan't gebeure, tog bly dit 'n plek waar jou siel kan asemskep

VANDERBIJLPARK. – Vrydagoggend, 11 Februarie 2022 het dames by Kunstedraai in Offenbachstraat in Vanderbijlpark byeengekom om te leer hoe om dasse en strikdasse uit egte leer te maak.

Anél Badenhorst van You, Me & Three het die verskillende kleure leer en toerusting voorsien. Die dames het gesê hulle maak die dasse en strikdasse vir die manne in hul lewe.

Tussen die pas en meet en baie versigtig sny is daar vrolik stories uitgeruil oor alles en nog wat.

Een van die jonge dames, Edine Holloway, het lank gewik en geweeg oor presies watter stuk van die leer sy gaan gebruik.

Edine Holloway en Ané Badenhorst soek die beste stuk leer om die das te sny.

Die das wat uit die leer verskyn het, was ekstra-spesiaal. Sy het gemaak vir haar verloofde om op hul troudag te dra!

Intussen het hongermaak geure vanuit die koffiewinkel op die perseel, Offenbach’s Coffee, aangedui dat daar ook ‘n bedrywigheid aan die gang was.

Hier was Fanciska van der Merwe en Sarisa Kruger besig om onder andere, hoenderpasteie te bak.

Die koffiewinkel beslaan die een hoek van die groot erf en die huis wat voorheen ‘n pastorie was.

Riëtte Odendaal sê Kunstedraai is ‘n ware kunstesentrum waar daar altyd iets aan die gebeur is.

In die week word daar onder andere, drama, ballet, naaldwerk en selfs rekeningkunde aangebied.

Franciska van der Merwe (jnr) en Sarisa Kruger bak hoenderpasteie in die koffiewinkel se gesellige kombuis.

Dan is daar nog die kamer wat hul in ‘n winkel omskep het waar jy aandrokke kan huur en ‘n verskeidenheid van goeie gehalte gebruikte kledingstukke kan koop.

Die groot lekkerte van hierdie ou huis is dat niemand ooit op mekaar se tone trap nie.

Van die On Pointe Ballet Studio tot by die ADK drama en film klasse het hul eie ingange.

Terwyl die kinders hul passies beoefen, kan die ma’s in die tuin ontspan onder die groot koeltebome met tuisgebak en koffie.

Riëtte sê sy en haar mede-eienaar Franciska van der Merwe (snr) is al jare lank vriendinne en geniet dit om Kunstedraai Kunstesentrum saam te bedryf.

“Mense kan ook die saal (wat gewoonlik as ballet studio dien) huur vir hul eie funksies. Ek geniet dit altyd om te sien hoe hulle die saal omtower met dekor vir alles van baba- tot bruidstees.

“Ons bied ook vertonings hier aan. Verlede jaar het Lizz Meyering een van haar eenvrou vertonings hier kom opvoer.”

Dan is daar natuurlik ook die werkswinkels wat van tyd tot tyd aangebied word en vir groot pret sorg.

Gaan loer gerus in by hul Facebookblad, Kunstedraai vir meer inligting en kontakbesonderhede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button