Polisie soek steeds na ontvoerde sakeman
Die sakeman van De Deur wat Donderdagoggend (24 Februarie 2022) voor sy besigheid ontvoer en in ’n swart dubbelkajuit bakkie geboender is word steeds vermis.
DE DEUR. – Zaheer Asmal, die eienaar van Fred’s Hardware, ’n hardewarewinkel in De Deur, is Donderdagoggend omstreeks 07:34 ontvoer.
Die polisie het ’n soektog van stapel gestuur.

Yusuf Abramjee
Kolonel Athlenda Mathe, ’n polisiewoordvoerder, het Vrydagoggend (25 Februarie 2022) by navraag aan Vaalweekblad gesê dat die polisie nie kommentaar kan lewer op aktiewe ontvoeringsake nie aangesien hulle nie die lewe van die slagoffer in gevaar wil tel nie.
Op die vraag of dit bloot ’n ontvoering is waarvan die motief onbekend is of ’n ontvoering waar daar op losprysgeld aangedring word het Mathe gesê: “Geen kommentaar.”
Asmal se familie wou ook nie Vaalweekblad in hierdie stadium te woord staan nie.
Op ‘n kringtelevisie-video kan mens sien hoe die sakeman uit sy wit Corsa bakkie klim en voor sy winkel gaan staan. Sekondes later stap twee mans nader terwyl ‘n dubbelkajuit bakkie voor sy winkel langs die R82-pad (Ou Johannesburgpad) stilhou.
‘n Man spring uit die bakkie en hardloop nader aan die sakeman en die twee mans wat reeds voor die winkel met hom besig is. Later sleep die drie mans hom na die bakkie, waar hy ingeboender word.
Dit lyk soos ’n Toyota Hilux dubbelkajuitbakkie.

Daar was die afgelope tyd ’n toename in gevalle waar ryk besigheidsmanne geïdentifiseer word, hulle of hul familie ontvoer word, aangehou word en dan vir groot hoeveelhede geld deur hul ontvoerders uitgelewer word.
Die ontvoering van die Moti-sibbe van Limpopo is een van die mees onlangse voorbeelde van hierdie tendens, waartydens die vier seuns van Nazim Moti, ’n bekende sakeman van Polokwane, ontvoer is en later weer vrygelaat is.





