Ek sê maar net …
Ek maak vrugteslaai en soos gewoonlik ontaard dit in 'n taai affêre.
Om vrugte te skil en te sny vir ‘n vrugteslaai kan mos maar in ‘n klewerige affêre ontaard. Kom ek dit weer agter toe ek vrugteslaai maak.
Kyk, koue vrugteslaai (veral saam met roomys) is baie lekker, maar ai om eers alles tot happie groottes in die bak te kry is ‘n hele storie.
Laat my nou dink aan die een jaar wat ons vrugteslaai gemaak het vir ‘n kerkete. Was nog daar in Pretoria.
Al het ons koerante op die vloer gepak en sakke en skinkborde op die tafel gesit, was dit nie lank nie toe is ons, die vloer en Chicky, die Husky-kruising taai.
Sy was op daardie stadium nog maar net ‘n paar maande oud en het al onder die tafel bly invoeter.
Van daardie dag af het sy so ‘n liefde vir vrugte ontwikkel.
Genade, tot met haar dood jare later het sy op ‘n afstand geruik as jy ‘n vrug skil en dan het sy met haar rumatiekbeen en al nadergestap vir ‘n happie.
Terwyl ek so sit en sukkel om die pynappel geskil te kry – daar is mos altyd doringkies wat vassteek en dan moet dit nou afsonderlik gesit en uitgehaal word – dink ek aan hoe mense se idees oor vrugteslaai verskil.
My pa was ‘n meester-vrugteslaaimaker. As jy hom nou wou vies hê dan moes jy appel of druiwekorrels in die slaai sit.
Veral ongeskilde appels. ‘n Mens doen dit net nie. Ek stem nogal saam met hom.
‘n Harde stuk peer in so ‘n bak vol heerlikheid doen dit ook nie vir my nie.
Hospitale verstaan mos ook hoeka nie hoe om vrugteslaai te maak nie.
Ek onthou toe ek verlede jaar so aan’t herstel was van Covid, hoe ek elke dag se spyskaart moes merk. Heel vrug of vrugteslaai.
Het nooit kans gesien vir daardie heel pere of appels nie. Voel mos altyd vir my die goed wil in my keel vassteek.
So het ek dan maar elke keer gemik vir die vrugteslaai. Ai jai jai… Iemand moet tog vir hulle die resep gee.
Ek kan ook geheel nie verstaan hoekom iemand van daardie geblikte “fruitsalad” met net die een halwe kersie, in vars vrugte wil inmeng nie.
Vir my pa was daai soos ‘n doodsonne!
Papino’s, piesangs, pynappels (gerasper) en vars lemoensap was sy basiese resep en dan sou hy miskien nog kiwivrugte en grenadellas ingesit het, selfs aarbeie.
Maar appels en pere? Aikôna. Ek verskil met hom oor die pynappels.
Verkies om dit in stukkies te sny en nie te rasper nie. Die kanse is baie goed dat die stuk pynappel sal gly en ek my vingers sal raak rasper.
Weet ook nie wat hy oor my vrugteslaai poging van nou die dag sou sê nie.
Ek het by gebrek aan vars lemoene ‘n blikke vrugtesap oorgegooi. Darem was dit “still” en nie “sparkling” nie.
Nou wonder ek. Waarom noem ons dit ‘n vrugteslaai? Niemand eet dit tog saam met braaivleis op ‘n bord nie.
Dalk sal koue-vrugte-pappery-met-‘n-grenadellapit-byt eerder werk! Ek sê maar net.


