Local newsNewsNews

Ouskool BMX’e is weer mode!

In die 80's was kinders op BMX fietse 'n algemene verskynsel. Vandag is spesifiek die BMX fietse uit daardie era versamelaarsitems.

VANDERBIJLPARK. – Kinders van die 70’s en 80’s sal dit onthou – BMX fietse.

Natuurlik is daar vandag nuwe modelle op die mark, maar dis die fietse uit die 1980’s wat steeds hartsnare roer.

Die restourasie, opbou en skou van BMX fietse is nie net wêreldwyd ‘n groeiende stokperdjie nie, maar ook ‘n lonende tydverdryf.

Ivan Benn was van sy kinderdae gek oor BMX-fietse. “Ek het my eerste BMX in die laerskool gekry en ek het BMX gery tot in graad 9,” vertel hy.

Nadat hy sy eerste motorfiets gekry het, het sy eerste liefde agterweë gebly.

Hierdie Hutch Gold Trickstar is ‘n replika van die een wat in 1988 vir die legendariese BMX legende Woody Itson gemaak is. Ivan Benn het die fiets vir ‘n versamelaar oorgedoen. Foto: verskaf

“Op ‘n stadium het ek motorfietse gebou om te skou, maar dis ‘n duur speletjie. Dit het ook lank geneem om ‘n motorfiets klaar te maak,” vertel Ivan.

Dis toe dat sy pad weer met BMX fietse gekruis het. Hy doen baie goed en het sedert 2014 al vier keer die nasionale skou gewen.

BMX fietse wat tussen 1978 tot 1989 vrygestel is, is baie gewild. Ivan sê hy doen baie navorsing om seker te maak elke model word gerestoureer soos wat dit oorspronklik vrygestel is.

“My een kliënt het ‘n versameling van by die 100 fietse. Hy het gevra dat ek sy 1988 Hutch Trickstar vir hom oordoen as ‘n 24 karaat vergulde fiets,” beduie Ivan na die blinkgoue fiets.

Dis ‘n replika van die Hutch Gold Trickstar wat in 1988 spesiaal vir die legendariese BMX toertjie legende, Woody Itson gemaak is.

Ivan het die meesterstuk by die South African Old School BMX Show in die Kaap vertoon waar hy loshande skoonskip gemaak het.

Hy is altyd op die uitkyk vir BMX-modelle uit die 80’s, maar soms loop hy ook ander treffers raak.

“Ek het al ‘n Rally Chopper begrawe onder 40 jaar se stof op ‘n kleinhoewe gekry,” vertel hy.

“Ek restoureer Choppers ook, maar dis moeiliker. Ek verkies maar die BMX’e.”

Foto verskaf

Enige een wat op soek is na ‘n BMX uit die 80’s of wat een het wat gerestoureer moet word, kan Ivan gerus kontak op 082 552 9615.

Hy is hoeka op soek na ‘n nuwe uitdaging.

“Ek het in 2021 met ‘n 1982 Redline MX2 die nasionale skou gewen. Ek het nie gedink ek sal ooit op daardie fiets kan verbeter nie, en toe kruis die Trickstar my pad.

“Dit sal sukkel om mooier en beter te gaan van hier af,” sug hy.

Wie weet, dalk kruis die BMX waarmee E.T terug huis toe is in Steven Spielberg se beroemde fliek dalk nog sy pad … Niks is onmoontlik nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button