Ek sê maar net …
Dis 'n moeilike ene dié. Ek ondersteun graag plaaslike ondernemings. Daar is van hulle wat regtig goed is, maar dan ... dan is daar dié wat my teen die mure uitdryf en ek kan glad nie eens 'n muur uitklim nie!
Ek kan dit mos nie verduur of verdra as mense nie trots is op hul werk nie. Kyk net hoeveel goed hulle in die kortste moontlike tyd kan aframmel.
Maak nie saak hoe sleg of slordig nie. Nee, ek praat nou nie van die regering of die plaaslike munisipaliteit nie.
Ek praat van mense wat hul dienste op sosiale media adverteer, hetsy dit nou is om posbusse te verf, wiele te politoer of om miere op die gras te tel.
In die advertensies beloof hul die son, maan en sterre. Hul toerusting op die foto’s blink so, jy moet jou selfoon se skerm summier donkerder maak.
Met die eerste kennismaking is dit seepgladde stories oor hoe die diens gelewer gaan word.
‘n Mens hoor dinge van 100% toesig, betroubare werkers, kwaliteit tyd. Goeie pryse. Niks is te nietig of te moeilik om gedoen te word nie. Ja nè?
Ook net totdat jy jou geld uitgehaal het en die mense moet begin om ‘n diens te lewer! Dan besef jy van kwaliteit is daar geen sprake nie.
Werk word afgerammel. Foute op foute sonder luister. Skielik is daar verskonings.
Dit is te kort en dat is te lank. Die kan nou nie vandag nie en daai kan eers volgende week.
Durf jy kla oor swak diens of goed wat verkeerd gedoen word, word jy net met verdere leë beloftes stil gemaak.
Dis sulke tye wat ek wonder hoekom doen ek nog die moeite om ons eie plaaslike besighede te ondersteun?
Maar, net sodra ek op die punt is om dienste ten duurste in te voer van anderkant die Vaal of Apiesrivier, dan is daar weer iemand wat my verras.
Ons het ‘n boorgat in die erf en so sien ma skielik water borrel elke keer as sy die kraan oopdraai om die tuin voor nat te spuit.
Sy bel laat op ‘n Vrydagmiddag vir loodgieter Fanie. Hy red al jare die geiser, pype en krane van ondergang.
“Asseblief, sit ons net op jou lysie vir volgende week,” hoor ek haar vra.
Die Maandagoggend het ek ‘n storie om te gaan doen. Toe ek middagete se kant terugkom, is sy seun en twee werkers hard aan’t spoke om ‘n gat te grawe sonder om ma se blomme te vertrap.
Hulle moes eers twee rotse (geplante rotse, dit lê nie sommer net bo op die grond nie) uitgrawe. Versigtig het hulle die plante verwyder.
Dit was warm, maar die manne het nie gekla nie. Net dankbaar die koeldrank geneem wat ma aangedra het.
Op ‘n stadium toe “trip” die krag in die huis. Hulle het ‘n elektriese kabel afgekap, wat hulle op hul eie onkoste herstel.
Dieselfde middag was die elektrisiteit reg en die nuwe pyp en kraan in. Die volgende oggend vroeg was een van die werkers daar om weer sement te gooi waar dit opgekap moes word.
Selfs aangebied om weer die plante te plant, maar ma het gesê dis okay. Dit kan sy self doen.
Hard gewerk. Netjies gewerk. Bekostigbaar. Dankie Fanie. Dankie JP en jou span.
Omdat julle nog trots is op jul werk. Omdat julle nog beloftes nakom. Omdat julle nog werksetiek het, sal ek aanhou om ons plaaslike ondernemings te ondersteun. Ek sê maar net.

