Local newsNewsNews

Ontvoerde sakeman bevry, drie in hegtenis geneem

Die polisie het die sakeman van De Deur wat op Donderdagoggend (24 Februarie 2022) voor sy winkel langs die Ou Johannesburgpad (R82) ontvoer is Maandagaand (28 Februarie 2022) by ’n huis in die suide van Lenasia gevind.

DE DEUR. – Zaheer Asmal, die sakeman, is glo veilig en ongedeerd.

 

Drie verdagtes wat glo by die ontvoering betrokke was is tydens die operasie in hegtenis geneem.

Vaalweekblad verstaan van die mans is van Mosambiek af.

Die polisie het ook die bakkie wat tydens die ontvoering gebruik is gevind en daarop beslag gelê, sowel as ’n vuurwapen wat tydens die voorval gebruik is.

Die bakkie wat tydens die ontvoering gebruik is, is gevind. Foto: Verskaf

Asmal is Maandag met sy familie herenig.

Volgens Kolonel Athlenda Mathe, ’n polisiewoordvoerder, het die inhegtenisname deel gevorm van ’n spesiale teenmisdaad-operasie deur ’n multi-dissiplinêre taakspan wat uit die polisie se spesiale anti-ontvoering taakspan, die Johannesburgse Metropolitaanse Polisie (JMPD) en twee privaat sekuriteitsmaatskappye bestaan het.

Volgens Mathe is daar die afgelope tyd 8 verdagtes in Gauteng in hegtenis geneem in verband met ontvoering waartydens daar op lospryse aangedring word.

Die nuus volg kort nadat ’n 37-jarige man wat glo die beweerde meesterbrein agter ’n reeks ontvoerings in Gauteng, Maputo en Mosambiek verlede week in Brackenhurst suid van Johannesburg in hegtenis geneem is.

Volgens Mathe was daar oor die afgelope paar maande ’n toename in hierdie soort misdade in veral Gauteng, maar ook in die Wes-Kaap en KwaZulu/Natal.

Volgens Mathe het die polisie die afgelope tyd talle suksesse behaal met dié soort misdade.

“In verskeie gevalle was ons in staat om die slagoffers te bevry en verdagtes in hegtenis te neem sonder dat ’n losprys betaal is,” het sy gesê.

Asmal se familie wou nie verlede week met Vaalweekblad praat nie.

Asmal, die eienaar van Fred’s Hardware, ’n hardewarewinkel in De Deur, is omstreeks 07:34 deur drie mans ontvoer kort nadat hy uit sy voertuig geklim en voor sy winkel gaan staan het.

Op ‘n kringtelevisie-video kan mens sien hoe die sakeman uit sy wit Corsa bakkie klim en voor sy winkel gaan staan.

Sekondes later stap twee mans nader terwyl ‘n dubbelkajuit bakkie voor sy winkel langs die R82-pad (Ou Johannesburgpad) stilhou.

‘n Man spring uit die bakkie en hardloop nader aan die sakeman en die twee mans wat reeds voor die winkel met hom besig is. Later sleep die drie mans hom na die bakkie, waar hy ingeboender word.

Die voertuig waarin Zaheer Asmal gelaai is voordat hy verdwyn het. Foto: Verskaf

Die voorval het in ’n paar sekondes gebeur.

Volgens die privaatspeurder Mike Bolhuis was daar die afgelope tyd ’n toename in gevalle waar ryk besigheidsmanne geïdentifiseer word, hulle of hul familie ontvoer word, aangehou word en dan vir groot hoeveelhede geld deur hul ontvoerders uitgelewer word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button