Local newsNewsNews

Watwou 90! Oom Edgar is fluks, flink en vlytig.

"Moenie net gaan sit nie. Hou jou lyf en verstand besig" - Edgar Van den Berg (90).

VANDERBIJLPARK. – 16 Februarie 1932. Op die dag is Edgar Van den Berg gebore. Op 16 Februarie 2022 het hy sy 90ste verjaardag gevier.

Nie dat hy hoegenaamd sy ouderdom lyk nie. Steeds fiks en gesond en lees nog sonder bril.

Hy maak jaarliks ‘n draai by die hartspesialis. ‘n Vereiste na sy hartomleiding in 1997. Daarna het hy nog meer woema gehad om die lewe met oorgawe aan te durf.

Edgar het na skool ‘n passer en draaier geword en ook sy ingenieursdiploma verwerf. Kort na sy troue met sy groot hartsliefde, Barbie, het hy by die ou Vaal kragstasie gaan aanklop vir werk.

“Hulle het gesê ek kan dadelik begin, hulle sal selfs vir my ‘n huis gee,” onthou hy.

Hy sou die Maandag begin werk, maar oor die naweek vra ‘n vriend hom of wil hy nie by HTS Vereeniging uithelp nie.

Dit was die begin van ‘n onverwagse, maar suksesvolle loopbaan in die onderwys.

“Ek het daardie eerste jaar wiskunde en wetenskap gegee. Dit was in 1955. Een van my standerd 6 leerlinge het die hoogste punte landswyd in wetenskap behaal en een van my standerd 7 leerders die hoogste punte in wiskunde!”

Later jare was hy een van die eerste lektore van die destydse Vaaldriehoek Technikon en by sy aftrede in 1992 was hy landswyd eksaminator in drie tegniese vakke.

“Ek het oor die jare 30 verskillende vakke aangebied,” vertel hy trots.

Na sy aftrede het hy en Barbie dadelik saam met vriende op ‘n karavaantoer na die Vrystaat vertrek. Kamp en reis was ‘n groot liefde vir die Van der Bergs.

Hulle het nie net Suid-Afrika platgetoer met ‘n karavaan nie, maar ook Europa.

Om fiks te bly het Edgar op 60 ernstig begin tennis speel. Hy het eers onlangs ophou speel. “Op my ouderdom, is mens nie lus vir val en ‘n besering opdoen nie,” sê hy beslis.

Tot voor die Covid-pandemie was hy deel van ‘n klub vir enkellopendes wat gereeld gaan dans het. “Ek was nog altyd lief vir musiek,” vertel hy.

Sy vrou was ‘n orreliste. “Ek luister nog baie na haar opgeneemde musiek.” Sy is in 2017 oorlede. Hulle was 64 jaar getroud en het twee kinders, Elize en Pieter.

Edgar het ook sewe kleinkinders en drie agterkleinkinders. Op 90 het hy nog nie so ver gekom om net ‘n dag om te sit nie.

Hy geniet dit om sy dogter weer tuis te hê. Saam lees hul graag, luister musiek en hy sny nog gras en werk in die tuin.

Edgar lag maklik en sy oë blink vrolik. Dit moes ‘n belewenis gewees het om by hom klas te kry.

Sy stories sleur jou mee, sy lewenslus is aansteeklik. Watwou 90, hy sien nog kans vir baie jare van voluit leef en die lewe geniet.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button