Graad R atlete ding mee by Vaalpark Primêr
Dit was kookwater atletiek - kompleet met sportliedjies en superhelde - by Vaalpark Primêr se Graad 0/R atletiekdag.
VAALPARK. – Woensdag, 16 Februarie 2022 was ‘n groot dag vir Vaalpark Primêr se jongspan.
Daar kon uiteindelik weer ‘n Graad R – atletiekdag gehou word!
Vir die geleentheid het graad R leerders van Noordskool, Lumiére, Curro, Leeuwspruit, AJ Jacobs en Vesco Academy bymekaargekom.

‘n Feestelike atmosfeer het geheers en Vaalpark Primêr se jonge “cheerleaders” het ook gewys waartoe hul in staat is.
Selfs die afsettingsbeampte het die skote laat klap terwyl hy sy superheldmantel gedra het.
Die kinders het die dag baie geniet en met elke resies is daar breed geglimlag.

Daar was selfs hekkies (‘n geskatte baksteen hoog) wat die kranige atlete met ywer aangedurf het.
Dan was daar die aflosse … en die aangee van die stokkie.
Dis mos iets waarmee selfs gesoute atlete soms mee sukkel, maar die toekomstige kampioene het dit gemaklik hanteer.
Die een wat oorgee het dadelik (met baie aanpor van die baanbeamptes) gaan sit, terwyl die spanmaats voortgesnel het.

Die dag is afgerond met van die personeel wat mekaar die stryd aangesê het op die baan tot groot vermaak van die leerlinge.
Charmaine Kriek, Vaalpark Primêr se skakelbeampte, het gesê: “Ons wil elke ouer en onderwyser bedank wat as beamptes diens gedoen het.”
Die skool is ook dankbaar teenoor Wimpy Riverside Mall en Tharochem wat as borge opgetree het.
Gaan kyk gerus die video van die dag se verrigtinge by https://www.youtube.com/watch?v=mNV5WrQpYU8

