Rinkhalse laat plaaslike slangvanger bont staan
Plaaslike Netcare 911 nooddienswerker en gekwalifiseerde slanghanteerder, Nick van der Walt, moes die afgelope week verskeie kere help om rinkhalse in die Vaaldriehoek-omgewing te verwyder.
VANDERBIJLPARK. – Weens warm temperature blyk dit of die omgewing tans krioel met slange.
Nick se hulp en kundigheid is Maandag (28 Februarie 2022) ingespan om ‘n rinkhals van ‘n gholfbaan in Vaalpark te verwyder.

Dinsdag (1 Maart 2022) is hy ingeroep om ‘n slang uit ‘n stoor op ‘n erf in Louis Trichardt Boulevard te verwyder.
Gelukkig is geen mense of slange in enige van die voorvalle beseer nie.

Hoewel die rinkhals uit ongeveer 170 slangspesies in Suid-Afrika as een van die mees giftigste slange beskou word het daar glo vier dekades verbygegaan sedert iemand dood is weens ‘n slangbyt.
Rinkhalse is glo volop in die omgewing van die Vaaldriehoek en Midvaal.
Die slange verdwyn vinnig as hulle bedreig voel maar Van der Walt waarsku dat die slange geneig is om vir hul vyand se oë te spoeg as hulle vasgekeer voel.
Hulle is ook geneig om onderstebo te lê en dood te speel as hulle bedreig word.

Van der Walt doen ‘n beroep op mense om hul troeteldiere weg van die slang af te hou en die slang nie self te probeer verwyder nie.
Probeer ook om ‘n oog op die slang te hou terwyl daar vir die slangvanger gewag word, maar hou ‘n veilige afstand.
* Indien enigiemand meer inligting benodig oor slange of opsoek is na slang-identifikasie, -hantering en slangbyt behandeling en opleiding, besoek gerus die webtuiste https://accesspd.co.za/snake-training. Opleiding is geakkrediteer.
