Local newsNewsNews

Vlymskerp Andries Visagie

Entoesiasties, super intelligent, met ‘n groot liefde vir Afrikaans, ‘n skerp sin vir humor en ‘n gawe om met vlymskerp kommentaar enige plofbare situasie op sosiale media te ontlont - dis Andries Visagie.

VANDERBIJLPARK. – Andries Visagie is ‘n man van vele talente en bedrywighede. Rustig wees is nie in sy woordeskat nie.

Behalwe vir sy voltydse beroep in die Inligtingstegnologieveld, bestee hy ook baie tyd as vrywilliger en lid van AfriForum Vanderbijlpark.

Hy is betrokke by ‘n amateur radio groep, hou ‘n oog as moderator oor Vaalweekblad se Facebookgroep en dan is daar die Voortrekkers.

Op pad na Doornkloof Voortrekkerplaas. Johan Coetzee, Davian Janeke, Divan Swanepoel, Gunther Mittermaier, Tristan Jooste, Chené Swanepoel, Andries Visagie en Susan Mittermaier Foto: verskaf

“Ek is al amper 40 jaar lid van die Voortrekkers,” vertel hy trots. As ‘n Voortrekker op skool kon hy gemeenskapsdiens verrig, avonture beleef, nuwe vriendskappe smee en trots Afrikaans wees.

Na skool het hy besef hy het ongelooflik baie geleer en gekry. “Ek het al die kennis en ervaring gehad en het net gevoel ek moes dit met die jonger geslag deel.”

Andries het deel van die volwasse Voortrekker korps geword en was deur die jare mentor vir baie kinders.

Hy is steeds avontuurlustig en geniet alles van abseil en staproetes oor berg en dal tot by wipwa-tuimel-ritte en motorfiets ry.

Andries het in Bloemfontein grootgeword en is ‘n lojale oud-Vrystater wat die Cheetahs ondersteun al kyk hy nie eintlik rugby nie.

Sy paaie het die eerste keer na die Vaaldriehoek gelei toe hy in 1988 as eerstejaar by die destydse Vaaldriehoek Technikon aangemeld het om elektriese ingenieurswese – ligte stroom te studeer.

Tydens ‘n boomplant-aksie saam met AfriForum. Andries (3de) saam met
Lodewyk Bothma, Lucas du Plessis en Brandon de Winnaar

“Sedertdien het ek nog nooit weer die area verlaat nie. My werk is hier en my vriende is hier,” sê hy.

Andries het ‘n malvalekker sagte hart so ver dit sy vriende, familie, kinders en diere aangaan.

Enige vorm van dieremishandeling en verwaarlosing maak hom warm onder die kraag.

Hy word ook kwaad vir mense wat nie hul kinders veiligheidsgordels laat dra nie of ‘n baba sommer op ‘n skoot vashou.

“As ek dit sien, wens ek altyd ek was ‘n verkeerskonstabel dat ek hulle kon stop en net daar beboet. Sommer baie ook,” raak hy kwaai.

Hy reken ouer mense luister nie genoeg na kinders en jongmense nie. “Ek maak ‘n punt daarvan om by die Voortrekkers vir die kinders self die geleentheid te gee om oplossings te vind en toe te pas. Jy sal nie glo hoe kreatief en vindingryk hulle is nie,” vertel hy.

Andries lag maklik, gesels lekker en deel graag staaltjies oor sy Voortrekker-kinders deur die jare.

Soos die outjie in Graad 3 wat die heeltyd net na Andries se kaalgeskeerde kop gestaar het.

“Ek kon sien hy brand om iets te vra, maar kon nie genoeg moed bymekaarskraap nie. Uiteindelik toe vra ek hom maar wat hom pla. Dis toe dat hy met groot oë vra: “Kan ek daaraan vat?”.

‘Ek sê ja, vat gerus. Toe die mannetjie so oor my pankop vryf, was sy enigste kommentaar ‘cool’. Dadelik wou al die ander toe vir hulself voel hoe die oom se bles voel!”

Gemeenskapsdiens is sy forte en hy is oral betrokke, van veldjies skoonmaak in Vanderbijlpark tot by die Vredesmonument skoon skrop in Vereeniging.

Entoesiasties, super intelligent, met ‘n groot liefde vir Afrikaans, ‘n skerp sin vir humor en ‘n gawe om met vlymskerp kommentaar enige plofbare situasie op sosiale media te ontlont – dis Andries Visagie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button