Solidariteit wen haatspraaksaak teen BLF oor Driehoek-skool
Die gelykheidshof in Johannesburg het BLF-woordvoerder, Lindsay Maasdorp, skuldig bevind aan haatspraak. Dit volg na uitlatings op sosiale media oor die ramp wat by Hoërskool Driehoek afgespeel het. BLF-lede het onder andere gesê het dat die dood van drie kinders ʼn goddelike ingryping was wat van drie toekomstige probleme ontslae geraak het.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit verduidelik: “Rassehaat mag nie net daargelaat word nie, want wanneer dit net gelos word, word dit die norm. Ons mag nie toelaat dat rassehaat genormaliseer word nie.
“Die uitsprake van die BLF was ʼn haatspraaklaagtepunt en as ons dit daar gelaat het, dan sê ons dit is aanvaarbaar. Deur hierdie uitspraak stuur ons juis ʼn boodskap aan ander openbare figure dat daar gevolge vir hulle wag wanneer hulle onskuldige slagoffers viktimiseer.”
Volgens Solidariteit het verskeie ouers en vriende van die slagoffers hulle genader om regstappe teen Maasdorp in te stel nadat sy uitsprake, waarin hy die dood van die kinders verwelkom, wye reaksie ontlok het.
“Ons mag nooit vergeet dat daar daadwerklike, menslike gevolge vir sulke optrede is nie. Ons is genader namens die geliefdes van Roydon Olckers, 17; Marli Currie, 14; en Marnus Nagel, 16 wie tragies hul lewens tydens die insident verloor het. Vier kinders is dood op 1 Februarie 2019 en 20 ander beseer,” sê Hermann.

“Hierdie uitspraak sal nooit hul ouers kan heelmaak nie maar deur hul bereidwilligheid om te baklei kan ons wel verseker dat sulke walglike opmerkings gestraf word en beskerm ons moontlik ander teen diegene wat genot daarin sou vind om ander se lyding en smart te vier.”
Solidariteit verduidelik voorts dat daar nooit enige twyfel oor die verwerplikheid van die aanmerkings van die BLF en sy verteenwoordigers bestaan het nie, en dit is deur die uitspraak bevestig.
“Volgens die uitspraak was hierdie aanmerkings inderdaad rassisties, kras, onsensitief, barbaars, en gemaak met die opset om seer te maak, skade te berokken en rassehaat aan te hits. Die regter het tereg opgemerk dat die aanmerkings rassehaat aanwakker.
“Trouens, die regter het bevind dat daar geen groter aanhitsing tot rassehaat kan wees as dat iemand hom oor die dood van onskuldige kinders verheug en dit vier nie, bloot vanweë die kleur van hulle vel,” sê Hermann.
Solidariteit voer aan dat hierdie uitspraak die baan weg vir verdere litigasie om ander openbare figure vas te vat oor onvanpaste en onverantwoordelike uitlatings.
“Die BLF se optrede is onverskoonbaar. Hulle het uitsprake ter wille van goedkoop politieke punte gemaak, wat bestaande trauma uitbuit en onherstelbare emosionele skade en smart veroorsaak. Hulle is egter nie die enigstes nie. Hierdie uitspraak is ʼn reuseoorwinning vir geregtigheid, maar daar wag nog vele meer sake vorentoe sodat ons rassehaat – veral teenoor minderhede – die nekslag kan dien,” het Hermann afgesluit.
