Lumiére personeel leer drom speel
“For us personally it’s a way for us to share our own thoughts about the world. It helps us show through music that all our problems are not needed, and that we can come together as people because we can come together to play music.” -Mamady Keita, Drum Busters
VAALPARK. – ‘n Mens kry lekker en dan kry jy Lumie-lekker. Op 3 Maart 2022 was daar ‘n spesiale spanbousessie vir die personeel by die Primêre Skool Lumiére. Die manne van Drum Busters, oorspronklik van Ghana, het met dromme in die hand die sessie aangebied.

Eers is almal geleer hoe om die bas en hoër note uit die drom te haal. Daarna is daar met verskillende ritmes begin. Juffrou Juanita Swart sê die hele oggend was fantasties lekker.
“Nadat ons die ritmes onder die knie gehad het, het ons ‘n liedjie geleer speel waar ons selfs die koor saamgesing het en nog ritme gehou het!”
‘n Paar personeellede het aan die begin nog bietjie terug gehou, maar soos die sessie gevorder het, het almal met oorgawe saamgesing, trom geslaan en op die regte tyd onthou om ‘n Hoo-haa te laat hoor.

Na baie lag en so ‘n bietjie onderlinge kompetisie oor watter span kan die beste ritme naboots, kon die Lumiepersoneel terugsit en na meesterlike trompetspel luister, alvorens hul weer die dromme kon slaan onder begeleiding van die trompet.
“Ons het dit almal baie geniet. Musiek bring regtig mense bymekaar,” het Juanita gesê.


