Local newsNewsNews

Ter wille van die voëls – rigting Suidpool

Vir meer inligting besoek gerus die Mouse-Free Marion Facebookblad.

DRIE RIVIERE. – Elaine Erasmus en ‘n vriendin, Alison Blignaut van die Vaal Voël Klub het in Januarie  die Flock to Marion 2022 seereis op die MSC Ochestra meegemaak.

Die skeepsvaart was meer as net ‘n plesierrit. Dit was deel van Birdlife SA se bewusmakings – en fondsinsamelingsveldtog om ‘n Mouse Free Marion te bewerkstellig.

Elaine sê hulle het elke oggend die mooiste sonsopkomste gesien en afgeneem. Foto’s verskaf

Elaine sê hulle het reeds in November 2021 Zoom lesings bygewoon waar hul ingelig is oor verskeie spesies wat hul langs die seeweg sou kon waarneem, van walvisse tot by albatrosse en pikkewyne.

Die skip het op 24 Januarie 2022 uit Kaapstad hawe vertrek met 1 600 passasiers aan boord. Rigting suidpool.

“Ons het die eerste dag baie voëls gesien, aangesien die Afrika kontinent nog onder die water strek, maar toe ons eers daar verby is, het dit stil geword,” vertel sy.

Die oseaan is daar tot 5½ km diep. Vir ‘n paar dae het hul slegs die son, see en wolke gesien.

“Ek het die mooiste sonsopkomste afgeneem.” Sy vertel hul het die meeste van die tyd van 05:00 op die dek gestaan met kameras en verkykers in die hand.

“Ons het vir die voëls gewag. Niemand wou binne wees nie. Dit was ook glad nie so koud soos wat ons gedink het dit sou wees nie.”

‘n Ander lekkerte vir die voëlkyk entoesiaste was die lesings wat daagliks aangebied is deur van die wêreld se top seevoëlkundiges, soos Peter Harrison, Dr Anton Wolfaardt, Trevor Hardaker en Prof Peter Ryan.

Prins Edward eiland kan in die verte gesien word.

Teen Donderdag, 27 Januarie het Prins Edward eiland op die horison verskyn. “Ons het in spanning gewag om Marion eiland te sien. In ons opgewondenheid het ons nie eens agtergekom dat ‘n misbank besig was om op te steek nie,” sê Elaine.

Nog voor die groter eiland sy verskyning deur die mis kon maak, het die kaptein aangekondig dat daar ‘n groot storm op pad was en dat hul moes terugdraai Durban toe.

Die skip sou in ‘n radius van 30 km om die eilande vaar aangesien die Suid-Afrikaanse regering nie wou toestemming gee dat hul aan wal gaan nie.

Marion en PrinsEdward eilande is as Spesiale Natuurreservate in 1995 verklaar en daar moet versigtig gewerk word om nie die ekologiese balans te versteur nie.

Birdlife SA wil juis van die muise op Marion eiland ontslae raak. Daar word vermoed dat die muise in die 19de eeu saam met walvisjagters aan wal gekom het.

Die span seevoël deskundiges en raadgewers hou plakate omhoog om die Mouse-Free Marion projek bekend te stel.

Die muisplaag het ‘n geweldige negatiewe invloed op die eiland se seevoëls.

Die Mouse-Free Marion projek gaan miljoene rande kos en daar word nou naarstigtelik fondse ingesamel ten einde die eiland se voëlspesies van ondergang te red.

Die beplanning is om al die muise op een slag in 2024 uit te wis.

Elaine sê die hele reis was ‘n ongelooflike ervaring en dat sy oor die 3000 foto’s geneem het.

“Ek het ongeveer 44 voëlspesies gesien, waarvan 27 vir die eerste keer was,” onthou sy.

Vir meer inligting besoek gerus die Mouse-Free Marion Facebookblad.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button