Uurglasteater sorg vir pret en opwinding
Drie produksies van begin tot end in 24 uur!
VANDERBIJLPARK. – Die Akademie vir Drama en Kuns (ADK) in Offenbachstraat het onlangs weer Uurglasteater gehou.
Die tradisie behels dat daar drie produksies op die planke gebring moet word in 24 uur.
Dit sluit alles in van die skryf tot by die regie, woorde leer en die opvoer van die stuk.
Rachelle Lourens, ADK Kommunikasie Bestuurder, het laat weet hierdie jaar was die groot dag 25 Februarie. Daar is om 19:00 begin. Drie skrywers, drie regisseurs en 20 akteurs het deelgeneem.

“Die skrywers het deurnag geskryf, en 9 uur die volgende oggend was dit teks ontleding, regisseur aanwys, woorde leer, kostuums kry, makeup en showtime.”
Saterdagaand, 26 Februaris om 19:00 was die drie finale produksies op die planke te sien by Kunstedraai.
Na afloop van die opvoerings is Nelmarie Janse van Rensburg as Beste Skrywer aangewys, Petroné Van der Merwe as Beste Regisseur, Rachelle Lourens as Beste Aktrise en Matthew Marshaal as Beste Akteur.

Die Beste Produksie vir die aand was “Suzie se spot”. Dis geskryf deur Geraldine Van Heerden en Petroné van der Merwe was die regisseur.
Die akteurs vir hierdie produksie was Rachelle Lourens, Franciska van der Merwe, Nirie Dirks, Kita Swanepoel, Christa Snyman, Rohan Rossouw en Given Mcosani.
