DA verwelkom eenparige ‘Ja’ vir aanpassingsbegroting
Burgemeester Zwane sê ‘n inkomsteverbeteringstrategie gaan geïmplementeer word en daar gaan ook met die opveil van oortollige bates begin word. Planne word voorts gemaak waaruit die munisipaliteit ‘n inkomste kan genereer
SASOLBURG. – Die Demokratiese Alliansie (DA) het verlede week die eenparige goedkeuring van die aanpassingsbegroting vir die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit verwelkom.
Dit is die eerste begroting wat deur Metsimaholo aangebied is sedert dit in die 2021 Plaaslike Regeringsverkiesings in beheer gekom het. Alle politieke partye wat in die Raad verteenwoordig is, het ten gunste van die aanpassingsbegroting gestem.
Volgens dr. Roy Jankielsohn, die DA se provinsiale leier in die Vrystaat, sê dit is ‘n aanduiding van die vertroue wat opposisiepartye in die vermoëns van die uitvoerende burgemeester, raadslid Jeff Zwane, het. Jankielsohn sê die DA het geen twyfel dat die aanpassingsbegroting sal bydra om broodnodige dienste aan inwoners van Metsimaholo te voorsien.
Die aanpassingsbegroting se doel is om diensleweringskwessies in Metsimaholo aan te pak en om tasbare verbeterings aan die lewensgehalte van alle gemeenskappe te bring. Daar is onder meer R3,7 miljoen bewillig vir die opgradering en instandhouding van die elektriese infrastruktuur, R7 miljoen vir die herstel van slaggate wat ‘n daaglikse frustrasie vir baie padgebruikers is, en R1,2 miljoen vir die sny van gras en die snoei van bome.
Burgemeester Zwane sê ‘n inkomsteverbeteringstrategie gaan geïmplementeer word en daar gaan ook met die opveil van oortollige bates begin word. Planne word voorts gemaak waaruit die munisipaliteit ‘n inkomste kan genereer.
*************************************************************************************

