Local newsNewsNews

Ouers veg om dogter se lewe te red

Die ouers van ‘n ses maande oue meisie met gevorderde kanker, werp alles in die stryd om hul kind se lewe te red.

REDAN. – Juandré (26) en Simoné (25) Potgieter het ‘n fondsinsamelingsveldtog van stapel gestuur om broodnodige fondse vir hul
dogter Lemé se behandeling in te samel.

Die jong gesin se lewe is tot stilstand geruk toe klein Lemé vroeër vanjaar met fase 4 neuroblastoom gediagnoseer is.

Die soort kanker kom algemeen by kinders voor en begin in neuroblaste
(onvolwasse senuweeselle) van die sentrale senuweestelsel.

Klein Lemé se kanker is tans in ‘n gevorderde stadium (fase 4) wat beteken
dat dit reeds na ander dele van haar liggaam versprei het.

Die ouers vertel dat Lemé op 6 Augustus 2021 gebore is toe haar ma skaars 29 weke swanger was.

Sy het met geboorte glo slegs 1.8kg geweeg en het die eerste paar weke van haar lewe in die hospitaal deurgebring.

In die hospitaal is daar ook ontdek dat sy bloeding op die brein het en daar is gevrees dat dit tot blindheid en doofheid kon lei.

Dokters kon gelukkig die bloeding stop.

Op 15 Oktober 2021 het sy ‘n gesonde gewig van 3.2kg bereik en kon sy huis toe gestuur word.

Die vreugde was van korte duur toe Simone later twee knoppe op haar dogtertjie se rug ontdek het en haar na ‘n dokter geneem het.

Nadat toetse op Lemé gedoen is het die dokter die verpletterende nuus gedeel dat Lemé neuroblastoom kanker het.

Om dinge erger te maak is daar toe boonop ontdek dat die kanker na Lemé se lewer versprei het.

Op die teer ouderdom van ses maande is daar onmiddellik met chemoterapie begin.

Lemé het haar eerste chemo-behandeling in Februarie ontvang.

Lemé is volgens haar pa nou weer terug by die huis en kry drie dae chemo-behandeling elke 21 dae.

Sy het tot dusver goed op die behandeling gereageer en gaan binnekort vir haar tweede stel chemoterapie.

Die gesin verkeer tans onder enorme druk en verwelkom tans enige hulp.

Mense wat hul weg oopsien om ‘n finansiële bydrae te maak, kan die Back a
Buddy-blad wat vir Lemé gestig is by https://www.backabuddy.co.za/champion/project/baby-leme besoek.

Besoek ook die Facebookblad Lemé Potgieter Faith Over Fear vir meer inligting of om uit te vind hoe jy kan help.

Pappa Juandre Potgieter (26) by sy dogter,
Lemé. Foto: Verskaf

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button