ELM: R800 000 per maand aan oortyd terwyl 36 vullistrokke staan
Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit het nie geld om sy stukkende vullisverwyderingsvragmotors te herstel nie, maar wel R15,1 miljoen vir die salarisse van 19 senior navorsers en ondersteuningspersoneel vir ANC-politici en meer as R800 000 vir oortydbetaling aan werkers van die vullisverwyderingsdepartement.
Dit is die een van die fokuspunte in Piet Smith (VF Plus-raadslid: Emfuleni-plaaslike munisipaliteit) se mediaverklaring.
Hy voer aan dat die oortydbetaling vir munisipale werkers is wat noodgedwonge naweke moet werk om die agterstand met vullisverwydering te probeer inhaal.
“Dit is onnodige uitgawes en die geld kon eerder aangewend geword het vir die herstel van munisipale voertuie en om brandstof aan te koop”.
Tans is 36 van die 39 voertuie van die vullisverwyderingvloot van Emfuleni in die motorhawe vir herstelwerk. Die probleem bestaan reeds lank en is die oorsaak dat die munisipaliteit die afgelope drie jaar slegs elke tweede week vullis verwyder.
Volgens rdl. Smith het van die stukkende vragmotors geringe probleme en min aandag nodig, soos die vervanging van ʼn battery of buiteband.
“Die drie oorblywende vragmotors staan ook dikwels sonder brandstof weens die munisipaliteit se kontantvloeiprobleme. Baie inwoners stort nou onwettig hul vullis in parke of langs paaie wat verdere probleme veroorsaak,” sê rdl. Smith.
“Inwoners dreig ook met ʼn klasaksie teen die munisipaliteit om ʼn gedeelte van die geld wat betaal word vir vullisverwydering, aan hulle terug te betaal aangesien die diens nie gelewer word nie.
“Hierdie wys opnuut hoe die onbevoegde ANC ʼn eens voorspoedige munisipaliteit in die afgrond in bestuur met verkeerde prioriteite”.
Die Gautengse regering het Emfuleni in 2018 onder gedeeltelike administrasie geplaas, maar geen verbetering in dienslewering of in die munisipaliteit se finansies is te bespeur nie.
Die VF Plus het die administrateur van Emfuleni, Gilberto Martins en sy span, versoek om dadelik die 36 stukkende vragmotors te herstel om die diens te lewer waarvoor belastingbetalers getrou betaal.

