Spanners se skoolhoof: Dirk Coetsee
Die skoolhoof is ‘n trotse Spanner wat gereeld sy skooldas en baadjie dra.
SASOLBURG. – Dirk Coetsee, HTS Sasolburg se hoof, hou van sport.
Hy speel gholf wanneer die tyd dit toelaat en het lank vir die Vaaldriehoek se Golden Oldie krieketklub gespeel.
Dit was juis deur krieketafrigting wat hy in die onderwys beland het.

“Ek het oorspronklik nie onderwys geswot nie, maar B.Com met Regs Vakke vertel hy. Hy het werk in Meyerton gekry en saam met vriende by Hoërskool Dr. Malan begin krieket afrig.
“Dit is daar wat ek besluit het ek wil nie heeldag in ‘n kantoor sit nie. Om ‘n verskil in mense se lewens te maak, beteken baie meer as geld.”
Dirk het sy Hoër Onderwys Diploma verwerf en ‘n onderwysloopbaan begin waar hy ‘n positiewe impak op vele skole en individue gehad, en nog steeds, het.
Hy het sy onderwysloopbaan by die Hoërskool Kemptonpark begin en het ook later by onder andere Hoërskool Henneman skoolgehou.
Sy vakke was wiskunde en rekeningkunde. Hy het egter driekwart van sy loopbaan as hoof spandeer van onder andere St. Patricks en Harmony High School.
Dit was by Hoërskool Koffiefontein in die Vrystaat waar sy passie vir tegniese skole begin het.
“Koffiefontein is ‘n myndorp en die myn het my gevra om te help om ‘n tegniese skool daar te begin,” sê hy.
Hy streef nou daarna om tegniese skole se vakke van so aard te kry dat leerlinge op skool reeds kan begin om vir hul ambagte te kwalifiseer.
“Ons het baie meer gekwalifiseerde ambagsmense in Suid-Afrika nodig.”
Op HTS Sasolburg of Spanners soos hulle hulself noem, is Dirk baie trots. Hy is ook ‘n trotse Spanner wat gereeld sy skooldas en baadjie dra.
Sy kantoor is gepak met bekers wat HTS oor die jare gekry het asook sport memorabilia. Teen die een muur is ‘n rugby-meesterstuk, al Suid-Afrika se Wêreldbekerkampioene (1995, 2007 en 2019) se foto’s met die spelers se handtekeninge.
“Ek het baie kontak met oudleerlinge wat kontakte het,” lag hy. “Daardie meesterstuk gaan nog op ‘n gholfdag opgeveil word.”
Een van Dirk se leerlinge waarmee hy kontak behou het, is die voormalige Springbok rugbyspeler, Conrad Jantjes.
“Ek was bevoorreg om Conrad af te rig in krieket en rugby. Een jaar het hy aan die skool se gholfdag deelgeneem en toe sê hy hy sou nooit Springbok geword het as dit nie vir my was nie. Ai, dis mos nou sulke dinge wat alles die moeite werd maak,” glimlag Dirk.
Alhoewel hyself meer in krieket uitgeblink het, het Dirk ook rugby gespeel.
“Ek ondersteun die Stormers. Nog altyd. My oupa was afkomstig van die Kaap en hy het die WP ondersteun. Wat ek van rugby weet, het ek by hom geleer.”
Hy lag lekker as ek vra wat doen hy in sy vrye tyd, want die skool is sy passie. “Ek hou daarvan om vleis te braai. Dit verskaf rustigheid.”
Hy probeer ook om ten minste een maal per jaar saam met sy gesin in die Oos-Kaap te gaan vakansie hou.
“By die Wildekus. Daar is min mense en byna niemand op die strand nie.”
Dis die ideale plek vir ‘n besige skoolhoof om te ontspan en nuwe planne vir sy skool se vordering te maak …

