Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

Ek ken wel vir Sperdatum. Dis ‘n grote monster met ‘n vlymskerp swaard waarmee hy joernaliste op ‘n drafstappie hou.

Slim mense sê ons moet ons tyd kan bestuur. Ek moet bieg dis iets wat ek laas kon doen toe ek in die staatsdiens gewerk het.

Dae voor slimfone en met gereelde werksure en etenstye en twee keer per dag se koffietyd.

Ja, ek het daardie wêreld uit eie keuse verlaat, want dit was ook in die stad.

Stadsverkeer is ‘n sport geheel op sy eie. Maklik 90 minute gery aan 12 km huis toe, want êrens was daar weer ‘n bus stukkend.

Ek dwaal af. Waarby ek wil uitkom is dat ek nie hond haaraf maak van tydbestuur nie.

Ek ken wel vir Sperdatum. Dis ‘n grote monster met ‘n vlymskerp swaard waarmee hy joernaliste op ‘n drafstappie hou.

Weet nou nie van my kollegas nie, maar terwyl ek spook en spartel om altyd een tree voor ou Sperdatum te bly, doen ek alles op nr. 99.

Ek sien die tyd stap aan vir ‘n volgende afspraak, maar ek maak gou ‘n storie klaar, laai net gou nog ‘n foto op die stelsel.

En dan? Woeps, waps, kaplaks… tyd uit en dan is dit Ry! Gerda ry!

Ja, was dit maar so maklik. Juis die dae wat ek regtig nodig het om 60km/u en ‘n bietjie te ry, is die dae wat ek die geduldvretende bestuurders op die pad kry.

Nou die dag weer probeer ek met groot haas, maar geen spoed, my rigting vind na die R42.

Voor my is ‘n grênd wit motor, maar dié beweeg teen minder as 40 km/u. Waarskuwingsliggies flits rooi.

Ek dag, sies tog, dalk is die motor aan’t breke en moet die bestuurder ‘n veilige plek soek vir stilhou.

So kruie ek agter die motor aan totdat ons die gladdeweg neem om links op die R42 te beland.

Die wit motor vang daai draai, maar ‘n dikwielfiets sal vinniger ry. ‘n Gaping na regs gee my die geleentheid om verby te beweeg.

Hygend hert en genadendal! Wat sal ek sien?

‘n Vrou agter die stuurwiel, een hand druk haar selfoon teen haar oor vas en met die ander beduie sy.

 

Dis toe dat ek besluit ek gaan vir die president van die RS van A ‘n brief skryf.

Dit sal lees: “Geagte President, ek is ‘n joernalis en ek het ‘n versoek wat u asseblief vir die ooms en tantes van die parlement moet voorlê.

Dis nou as hul eendag klaar is met die land se kragprobleme, die prys van petrol, wie verantwoordelik was vir die staatskaping en die gedraadsittery oor die oorlog in Europa.

Al wat ek vra is dat joernaliste ook van ‘n lig en sirene vir ons voertuie voorsien sal word.

Die polisie het die blou, die ambulanse het die rooi en ek sien die konstruksiewerkers op die snelweë het oranje.

Ons gee nie om watter kleur van die reënboog ons kry nie. Miskien ‘n helder groen. Selfs ‘n neon pienk sal doen.

Ons sal dit net gebruik wanneer ons haastig op pad is na ‘n storie of onderhoud of funksie en net as die mense voor ons baie stadig ry.

Sal help as die sirene ‘n deuntjie speel met ‘n stem wat sê: “Make a journalist’s day. Get out of the way. Joernalis is laat! Gee pad op die daad!”

Maak dit asseblief ‘n wet en kondig dit af op die volgende “familievergadering.” Baie dankie.

Net so sal ek skryf. Dink julle hy gaan luister?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button