Vaalpark se tweede kameratoring werk
Almal dra by en span saam om misdaad in Vaalpark te bekamp.
VAALPARK.- Tien kameras op twee torings is nou deel van die misdaadbekampers se arsenaal in Vaalpark.
Die kameras word 24/7 deur Belrex en Public Eye dopgehou.
Arrie Coetzee van Public Eye het laat weet dat die laaste kameratoring nou ook amper voltooi is en binnekort aanlyn sal wees.
“Dit stel ons in staat om elke moontlike ingang en uitgang van en na Vaalpark te moniteer vir voertuie en voetgangers,” sê Arrie.

Belrex Innovations het onlangs hul kontrolekamer opgegradeer om ‘n nog meer omvattende diens te kan lewer wat kringbeeld monitering insluit.
Daar is alreeds suksesse behaal vandat Belrex betrokke geraak het, veral in die Fezile Dabi Distrik.
Die Vaalparkers het ‘ kranige reaksiespan wat sommer in ‘n japtrap ‘n voertuig, wat as verdag gemerk is, op die Navic kamerastelsel opspoor.
Die polisie word dan in kennis gestel en hulle kan dan die situasie verder hanteer.
Met hierdie tipe tegnologie en samewerking het misdadigers nie ‘n kat se kans in Vaalpark nie.
Die dorp handhaaf reeds ‘n baie lae misdaadsyfer.
Public Eye, die SAPD en Belrex Innovations vorm ‘n gedugte netwerk wat saam met die patrolleerders seker maak dat Vaalpark een van die veiligste dorpe in die land bly.
Hier kan inwoners nog rustig wees en die lewe geniet, want hul weet hulle is in goeie hande.

