Dawie en Erencha groet Meyerton ná 68 jaar
Die bekende inwoner het Meyerton na ongeveer sewe dekades verlaat.
MEYERTON. – Dawie Louw (68), voormalige onderwyser, skrywer en bekende inwoner van Meyerton, het aan die einde van Februarie, na 68 jaar en 10 maande as inwoner van die dorp, saam met sy vrou Erencha (66) na Jeffreysbaai aan die Oos-Kaapse kus verhuis.
Volgens Dawie was die plan aanvanklik om in Portugal te gaan woon, maar weens onvoorsiene omstandighede moes hulle van plan verander.
Na talle oorweging het die egpaar besluit om na Jeffreysbaai te verhuis.
’n Afskeidsgeleentheid vir Dawie en Erencha is Dinsdag, 22 Februarie by Meyerton Sportklub gehou, waar bykans 100 gaste, oud en jonk, hulle vir oulaas kom groet het.
Die egpaar het Maandag, 28 Februarie by hul nuwe tuiste aangekom en soos Dawie dit beskryf is dit “‘n lieflike plek waar die golwe ons letterlik en figuurlik geselskap hou.”

Dawie, wat in Vereeniging gebore is, is een van sewe kinders (vier broers en twee susters) en het in Meyerton grootgeword.
Sy pa was ‘n kleiwerker by Vaal Pottery en het later Factory Carpets besit. Volgens Dawie was hy van kleins af ‘n dromer en ‘n liefhebber van musiek (Neil Diamond is by verreweg sy gunsteling en Koos du Plessis is die hartklop van sy siel).
Hy het sy skoolloopbaan aan Laerskool Meyerton (Dr. Verwoerd) begin en in 1970 aan Hoërskool Dr. Malan gematrikuleer.
Die skoolbusramp by Henley-on-Klip op 28 Januarie 1970 het in sy matriekjaar plaasgevind.
Daar het daardie dag 23 kinders gesterf, insluitend sy goeie vriend Johan le Roux (die kinderheld waarvan almal weet).
Dawie beskryf dit as een van die donkerste ervarings van sy lewe.
Hy het later ‘n gedig “Johan le Roux” daaroor geskryf wat vervat is in sy digbundel.
Sy dogter, Marguelette Louw, wat tans ‘n regisseur by die sepie Binnelanders is, het ook ‘n film Henley-on-Klip oor die busramp gemaak.
Nadat hy sy B.A.-graad in Sielkunde, Bybelkunde en Afrikaans Nederlands in 1973 aan PU vir CHO verwerf het, het Dawie in 1974 ‘n onderwysdiploma by die voormalige Potchefstroomse Onderwyskollege (POK) verwerf.

Dawie het sy onderwysloopbaan in 1975 by Hoërskool Dr. Malan in Meyerton begin en altesaam 33 jaar Afrikaans as vak aangebied.
Hy vertel trots dat hy nooit ‘n druipeling gehad nie.
Hy is later aangestel as departementshoof: Afrikaans, aangestel.
Oor sy loopaan as onderwyser vertel Dawie: “Ek het ‘n besondere band met die 6 000 leerlinge waarvoor ek skoolgehou het, gehad.
“Ons het mekaar wedersyds respekteer, maar was waarlik vriende en het dikwels grappies gedeel. Ons het dikwels ook lewenswysheid met mekaar gedeel”.



