Marita – voorbeeld en kampvegter vir MS-lyers
22 Maart 2022 is die groot dag, dan begin die proses om eers haar immuniteit af te breek en dan weer op te bou. Marita, ons dink aan jou in jou tyd van isolasie in die hospitaal.
VANDERBIJLPARK. – Marita Seyffert is ‘n vrolike, positiewe ma van twee tienerdogters wat al jare onder die swaard van ‘n outo-immuunsiekte leef.
Sy is in 2008 met veelvuldige sklerose, beter bekend in Engels as multiple sclerosis (MS), gediagnoseer.
Deur die jare het sy besef dat elke mens met MS uniek is en anders getref word.
“Dis ‘n baie wrede siekte wat baie van mense steel, tog het elke MS lyer met wie ek kontak het, iets om voor dankbaar te wees,” sê sy.
Marita het die eerste 13 jaar na haar diagnose besluit sy gaan net leef, van MS wou sy niks weet nie. “Ek was daar vir my twee dogters en het nie ‘n netbal- of hokkiewedstryd gemis nie.”

Die terugslag het in 2020 gekom. Haar heup het na jare se gebruik van kortisoon ‘gevrot’.
In Februarie 2021 het sy ‘n heupvervanging gehad, maar die skok was te groot op haar lyf en MS het toegeslaan.
“Ek het blaas- en dermbeheer verloor,” vertel sy. Van April 2021 het sy skielik agteruitgegaan en het sy net gevoel in haar arms behou.
“Geen medikasie help nie en daarom is daar besluit om ‘n stamseloorplanting te doen. Dit is ‘n baie duur prosedure en hoewel mediese fondse sal betaal vir kankerpasiënte om hierdie behandeling te ondergaan, geld dit nie vir MS pasiënte nie,” verduidelik sy.
Die proses behels dat sy haarself vir ‘n paar dae “growth” inspuitings moes gee.
“Die inspuitings veroorsaak dat jou stamselle te veel word in jou rugmurg en dan beland dit in jou bloedstroom. Die stamselle word dan met ‘n spesiale masjien geoes vanwaar dit dan gekweek word,” sê sy.
Marita het Dinsdag, 15 Maart vir die oes (harvesting) van die stamselle gegaan.
Op 22 Maart kry sy ‘n groot dosis chemoterapie kry wat haar immuunstelsel heeltemal sal afbreek.
Daarna begin die tydsame proses om haar immuniteit weer op te bou en haar nuwe stamselle te gee.
“Die hele proses kan tot einde April duur en ek sal tot dan in isolasie in die hospitaal wees. Omdat hulle my immuunstelsel gaan afbreek, mag ek geen besoekers ontvang nie,” vertel sy dapper.
Die stamseloorplanting sal die einde van MS in haar lyf beteken, maar sy weet nie of sy enige van die funksies wat sy verloor het, weer sal terugkry nie.
“Ek het vrede in my hart oor die proses. Ek glo ek sal weer kan loop. Ek is reg vir ‘n wonderwerk.”
Intussen het haar vriende en familie laer getrek om haar, nie net met gebed nie, maar ook deur finansiële ondersteuning.
Verskeie groot projekte is al aangepak, van ‘n gholfdag in Pretoria tot ‘n Note-raai aand in Vanderbijlpark.
“My vriende het net gesê ons moenie bekommerd wees nie. Hulle sal die geld bymekaarmaak,” sê sy dankbaar.
Verskeie van haar familielede en vriende het ook nou hul hare afgeskeer om te wys hulle staan by haar.
Marita droom daarvan om ‘n kampvegter te word vir MS pasiënte en ook om weer dinge vir haarself te kan doen.
“‘n Mens aanvaar te veel dinge as vanselfsprekend. Soos om kos te kan maak en skottelgoed te was of om jouself te kan bad,” sê sy.
Volg gerus haar persoonlike blog op Facebook by Griekie – stamsel oorplanting vir MS.
Finansiële bydraes kan in die volgende rekening betaal word. Rekeningnaam: Grietjie Bietjie MS. Bank: Absa. Rekening-nommer: 41 0321 0847. Dit is ‘n tjekrekening.


