Local newsNewsNews

Vaalpark Primêr se hoof, Karin Baker

Maak nader kennis met skoolhoof Karin Baker wat met 'n positiewe ingesteldheid en empatie die lewe aandurf.

VAALPARK. – Deernis, empatie en ‘n hart vol liefde vir die skool, personeel, leerlinge en ouers. Dit is Vaalpark Primêre Skool se hoof, Karin Baker.

Sy is lewenslustig met ‘n positiewe uitkyk op die lewe.

“Probleme kan opgelos word deur daaroor te praat. Ek glo daaraan om ‘n goeie verhouding te handhaaf met ons skool se personeel, leerlinge en die ouers,” verduidelik sy in haar kantoor wat uitkyk oor die tuine. Groot vensters. Kinders wat verbyloop waai vriendelik vir Juffrou Baker.

In November 2020 is Karin met fase drie borskanker gediagnoseer. “Die moeilikste vir my was dat ek agt maande moes isoleer. Ek mag glad nie uit die huis gegaan het nie,” onthou sy.

Die gebrek aan persoonlike kontak met die leerders en hul ouers was vir haar die ergste.

“Ek het aan die begin gewonder waarom ek? Maar nou glo ek ek het siek geword sodat ek ander vroue kan help en inspireer wat deur dieselfde gaan.

“Jy weet, dit hang baie af van hoe jy so ‘n diagnose hanteer. Ek het besluit om dit positief te benader. Dit is nie ‘n doodsvonnis nie,” beduie sy beslis.

Soveel liefde en deernis. Kyk net hoe straal die gesiggies omdat hul by Juf. Karin kan wees. Die foto is voor die Covid-pandemie geneem. Foto: Vaalpark Primêr Facebook

Karin se sterkpunt is haar empatie met mense. Sy verstaan hoe elkeen voel wat in haar kantoor inkom.

“Ek is self ‘n ma, ouma en onderwyseres,” glimlag sy breed.

Dit gebeur nie aldag dat ‘n grondslagfase onderwyseres skoolhoof word nie, maar Karin het bewys enige iets is moontlik.

“Ek het in Heilbron gematrikuleer en na skool in Bloemfontein gaan studeer. Ek het in 1988 graad gevang en is aan die einde van 1989 getroud. Ons het toe Vaalpark toe verhuis,” vertel sy.

Karin het by die Primêre Skool Lumiére as ‘n graad twee onderwyseres begin en was by die skool betrokke tot 2013.

Intussen het sy verder studeer en haar honneurs- en meestersgrade voltooi.

“In daardie tyd het ek studente opgelei by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein en by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) met betrekking tot graad 4 – 7 en het ek klasse in veerkragtigheid (Resilient Educators Programme) by die Noordwes Universiteit aangebied.”

Dit het haar voorberei vir haar huidige rol as skoolhoof. “My man is my grootste ondersteuner en motiveerder.

“Dit was hy wat my aangepor het om verder te studeer en hy wat my oortuig het om ‘n kans te vat en te skiet vir hoër poste.”

Karin het in Junie 2013 die adjunkhoof by Vaalpark Primêr geword. Daarna het sy vir lank as hoof afgelos, voordat sy in 2020 amptelik aangestel is.

Toe volg die pandemie en die kanker diagnose. “Dit was moeilike dae,” onthou sy, “maar ek glo mens hanteer alles deur naby jou Hemelse Vader te leef. Ek vra elke dag vir insig, krag en wysheid.”

Sy leef haar geloof en sorg dat sy goeie verhoudings bou. “Ek probeer almal dieselfde hanteer. Alhoewel ek baie deernis met mense het, is ek ook streng en probeer om konsekwent te wees. Ek slaag nie altyd nie, maar ek bid, probeer en vertrou,” glimlag sy.

“My grootste vreugde is die woord dankie. ‘n Dag kan hoe moeilik wees, maar as ‘n ouer, onderwyser of kind net dankie sê vir iets wat ek gedoen of gesê het, dan het ek weer energie.”

Karin straal. Party mense glimlag en dan bereik dit nie hul oë nie. Karin se glimlag kom direk uit haar hart en straal uit haar oë.

Vaalpark Primêr jul skoolhoof is trots op julle, maar ek is seker julle is net so trots op jul skoolhoof.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button