Meer as helfte van inskrywings vir Comrades Marathon 2022 op eerste dag opgeëis.
Die Comrades Marathon-vereniging sê meer as die helfte van die 15 000 beskikbare inskrywings vir die 2022 Comrades Marathon is op die eerste dag van die inskrywingsproses reeds opgeëis.
PIETERMARITZBURG. – Inskrywings vir die 95ste Comrades Marathon wat in Augustus gehou word, het gister (Woensdag, 23 Maart 2022) met groot fanfare geopen en hardlopers het nie gras onder hul voete laat groei om hul inskrywing in te kry en hul plek by die wegspring van die wêreld se grootste, oudste en bekendste ultramarathon te verseker nie.
Dit is die eerste keer in twee jaar wat die wedloop gehou word. Die wedlope wat in 2020 en 2021 sou plaasvind is weens die Covid-19-pandemie gekanselleer.
Rowyn James, die Comrades Marathon se wedloopdirekteur, sê: “Die begin van vanjaar se inskrywingsproses was werklik een vir die geskiedenisboeke. Met ‘n nuwe IT-diensverskaffer wat aangestel is en ‘n nuwe aanlyn inskrywingstelsel waarvan ons personeel en hardlopers hulself moes vergewis, het ons ‘n besige maar wonderlike dag gehad om die inskrywingsproses te open en atlete vir die 2022 Comrades Marathon ingeskryf te kry. ”
James voeg by: “Die meeste van ons atlete het gevind dat dit ‘n maklike soomlose inskrywingsproses was met 4368 inskrywings wat suksesvol ontvang is binne die eerste uur van die opening van die inskrywingsproses.”
Dit is die eerste inskrywingsperiode waar slegs die deelnemers wat suksesvol vir die die 2020 Comrades Marathon ingeskryf het, toegelaat word om vir die 2022-wedloop in te skryf.
Die eerste inskrywingsperiode duur tot 31 Maart 2022.
Suid-Afrikaanse atlete wat in 2020 vir die wedloop ingeskryf het se inskryffooi is van R1 200 tot R1 000 verlaag weens die 2020-wedloop wat gekanselleer is.
Atlete van ander Afrika-lande en internasionale deelnemers wat vir die 2020 Comrades Marathon ingeskryf het se inskrywings is na óf 2022 óf 2023 oorgedra en hierdie atlete sal nie ‘n toegangsfooi betaal nie.
Dit is vir eers net atlete wat vir die 2020-wedloop ingeskryf het wat nou kans kry om in te skryf vir hierdie jaar se Comrades Marathon.
Gedurende die tweede inskrywingsperiode, vanaf 20 April tot 16 Mei 2022, sal alle ander atlete toegelaat word om in te skryf.
Inskrywingsfooie vir diegene wat nie vir die 2020 Comrades Marathon ingeskryf het nie, is as volg:
*Suid-Afrika: R1200.00
*Res van Afrika: R2000.00
*Internasionaal: R4500.00
Toegang is gratis vir alle hardlopers wat die Comrades Marathon 25 keer of meer voltooi het.
Die tweede inskryf-vensterperiode sal nie van toepassing wees indien die inskrywingsperk van 15 000 atlete gedurende die eerste inskryf-vensterperiode bereik word nie.
ASA-reëls laat slegs aanlyn inskrywings toe en inskrywings sal via die Comrades Marathon-webwerf gedoen moet word by: www.comrades.com
Geen hand afgelewerde of posinskrywings word aanvaar nie.
Die 95ste Comrades Marathon sal die 47ste af-wedloop (van Pietermaritzburg tot Durban) wees en sal op Sondag, 28 Augustus 2022 plaasvind.
Atlete spring om 05:30 by die Pietermaritzburg-stadsaal weg en het 12 ure om die eindpunt by die Moses Mabhida-stadion in Durban te bereik.
Die amptelike afstand van vanjaar se wedloop is 90,2 km.

