Local newsNewsNews

Ek sê maar net …

Володимир Зеленський, Meni shkoda, shcho vidbuvayet sya z vashoyu krayinoyu. Slava Ukrayini. Mnr. Volodymyr Zelensky, ek is jammer oor wat met jou land gebeur.

Dis ‘n lelike ding, die ding in Oekraïne. Mense word doodgeskiet. Mense vlug. Op die TV sien ons die verskriklike beelde.

Hierdie is nie ‘n aksiebelaaide film nie. Dis regtig. Dis hartverskeurend. Die kinders. Die diere. Die jong president wat alles in sy vermoë doen om sy land en sy mense te red.

En wat maak die wêreld? Die wêreld probeer onderhandel.

Vanuit die kern van al die moeilikheid kom daar gereeld berigte van hierdie en daardie president wat nou weer gebel het. Gaaf.

Die lekker telefoongesprekke terwyl mense vir hul lewens vlug. Terwyl ‘n onafhanklike land sommer net so ingeneem word.

Ja, almal is bang vir die Derde Wêreldoorlog, maar dink hulle regtig die ou beer gaan stop by een land?

Het Julius Ceaser net een land oorgeneem? Wat van Napoleon Bonaparte of Adolf Hitler?

Net een ou landjie ingeval en toe daar gestop omdat iemand gebel en gesê het: “Ag nee my vriend, dis nie mooi nie. Jou stoute seun. Nog een tree verder en ons gaan jou hoekie toe stuur.”

Geensins nie. Magsbeheptes kry nooit genoeg nie. As die waansin van alles wil hê, beheer en regeer eers posgevat het, word dit nie gestuit nie.

Nie met mooi gesprekke en gedraadsittery nie. Daar is niks nuuts onder die son nie. Die geskiedenis herhaal.

‘n Land word ingeneem. Daar is missiele. Mens en dier vlug. Verwoesting orals.

En hier ter plaatse? Hier is dienslewering by die agterdeur uit. Verkeersligte buite werking. Straatligte (in ons straat) al vir ‘n dekade donker.

‘n Paar mense wat spook om die dorp weer leefbaar te kry. Op bakkiesblad is die gewone oorloë tussen die sleutelbordkrygers aan die gang.

Die geringste dingetjie en die kommentaar vervlak tot persoonlike beledigings. Kwaad. Beswaard. Alles laat humeure ontvlam.

Ons en julle. Julle en hulle. Die son is net vir party mense bedoel. Die lewe mag net deur sekeres geniet word.

Watter skool is die beste? Waar is die beste dokter? Wie is beter? Wat is die beste? Maar… niks vir ‘n arm en ‘n been nie!

https://www.facebook.com/francescotaskayali/videos/274485511501783

Intussen gaan sit ‘n vrou agter haar klavier en speel die mooiste melodie. Rondom haar is alles verwoes. Haar buurt, haar huis, haar lewe.

‘n Laaste melodie voordat sy vlug. Uit haar huis. Haar land… Hoe lank gaan die wêreld nog toekyk voordat hul iets gaan doen?

Dalk doen die regerings reeds meer as waarvan ons bewus is. Dalk is groter planne en hulp reeds in plek.

Maar, wat sal gebeur as lande wel teen die mal beer opstaan?

Wat sal gebeur as ons eie regering van die draad afval en ‘n kant tref waarvan ons nie hou nie?

Of maak dit nie saak wat daar ver aangaan nie?

Is al waaroor ons regtig omgee die stygende petrolprys?

Is daar iets wat ons kan doen? Hoe kan ons die jong president en sy land help?

Mnr. Volodymyr Zelensky ek is van Suid-Afrika waar die regering op die draad sit en oproepe maak, maar ek verstaan hoekom jy veg, al verstaan ek nie jou taal nie.

Ek is net ‘n joernalis duisende myle ver van jou stryd en jou land, maar weet net, ek is aan jul kant.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button