‘n Nuwe koffie-kafee-kultuur
Hier kan mens elke dag ‘n draai maak en dit elke keer van vooraf geniet.
VANDERBIJLPARK. – Vida e Caffè is meer as net nog ‘n koffiewinkel. Meer as net ‘n restaurant. Dis ‘n lewenswyse.
‘n Unieke koffie-kafee-kultuur wat jou met ope arms verwelkom en dadelik laat tuis voel.

Buite is daar die drive-thru en genoeg parkering vir motors en spesiale staanplekke vir fietse. Alles mooi omraam met bakke vol wit en rooi blomme.
Rooi is Vida e Caffè se hoofkleur en die kleur word met smaak herhaal in die logo, die binneversiering en die personeel se uniforms.
Hier kan daar gekuier word oor ‘n verskeidenheid van koffies, smoothies, ligte etes en tuisgebak.
Buite is daar tafels onder sambrele en ‘n prettige speelplek waar kinders van hul ekstra energie ontslae kan raak.
Die deure is alkante oop en binne is dit heerlik koel. Die personeel groet vriendelik en is gereed om vir jou van die beste te voorsien.
Nog ‘n span doen diens by die drive-thru waar jou bestelling binne vyf minute gereed sal wees.
Binne is dinge rustiger. Hier kan jy net ontspan. Werk op jou rekenaar afhandel of sommer net sit en jou koffie geniet.
‘n Groot bonus is die kragpunte by elke tafel daar vir die gerief van die kliënt. Vida is sewe dae per week oop van 05:00 tot 20:00. Jy het reg gelees!
Die koffiewinkel is om 05:00 elke oggend oop en gereed om jou te bedien.
Hulle is die ideale stop vir fietsryers of drawwers wat ‘n lafenis soek tydens hul daaglikse oefening.
Die drive-thru is ook om 05:00 al oop, so mense kan gerus vir hul ‘n wegneem-koffie en iets te ete bestel voordat hul die lang pad werk toe aandurf.
Hierdie koffie-kafee is geleë in Beethovenstraat 142 in SW5. Vanaf die amptelike opening op 14 Februarie vanjaar het dit reeds ‘n hele omwenteling in die plaaslike koffie- en kuier-kultuur veroorsaak.
Hoe dan anders met die wye keuse van warm en koue drankies, ligte etes en ander lekkernye? Daar word ook voorsiening gemaak vir vegans.
By Vida het almal ‘n passie vir koffie, kwaliteit gebak en mense. Elke besoeker word ‘n vriend wat kan terugsit en geniet.

Niemand word aangejaag nie. Hier kan jy kom wegkruip van die normale gejaag en net wees.
Die lekkerste is die solder-area. Met gemaklike sofas, is dit die ideale plek vir ‘n spanvergadering, ‘n verjaardagpartytjie of ‘n lekker kuiersessie saam met vriende.
Vida e Caffè bied voorwaar iets vir almal. Dis ook nie net kliëntevriendelik nie, hier word daar ook na die omgewing gekyk.
Die wegneembekertjies en glasies is bio-afbreekbaar en daar is groot planne om die winkel eersdaags op solar energie te laat funksioneer.
Vida e Caffè is omgewingsgroen in hul rooi getooi. Omgewingsgroen, verbruikersvriendelik, rustige musiek en koffie uit die boonste rakke … hier kan mens elke dag ‘n draai maak en dit elke keer van vooraf geniet.

