Local newsNewsNews

Junita sorg dat swem pret bly

Afrigter Junita le Riche se hart is oop vir elke kind wat by die hekke inkom.

VANDERBIJLPARK. – Buite blink die blou van die swembad helder in die son. Gereed vir nog ‘n klompie swemmers om hul vaardighede in die water te verbeter.

Of dalk vir die eerste keer die water te betree. Afrigter Junita le Riche se hart is oop vir elke kind wat by die hekke inkom.

Vir party help sy om hul vrees vir water te oorbrug en vir ander om daardie volgende kompetisie-vlak te kan bereik. Solank elkeen dit net geniet.

“Swem is harde werk, maar mens moet ook pret hê,” beduie sy en haar oë skitter vrolik.

Junita het van jongs af swemlesse geneem en self op haar dag vir Noord Vrystaat geswem.

“My afrigter, die legendariese Oom Kobie Louw, het altyd gesê: “Ek het die hart van ‘n swemmer, maar nie die talent nie.”

J’s Aqua se klubswemmbers

Dit was juis Oom Kobie wat ‘n groot invloed in haar lewe gespeel het en haar geleer het wat dit is om hard te werk om haar drome te bereik.

So het sy dan ook destyds haar lewensredder kwalifikasie bekom vir varswater en diepsee. Junita het vir 15 jaar ‘n playball franchise gehad.

“Ek het dit ook baie geniet, want ek is lief vir kinders en dis vir my lekker om met hulle te werk en te sien hoe hul vorder,” vertel sy.

Vir lank het swem net ‘n stokperdjie gebly, maar nadat sy haar eie nasorgsentrum begin het, het sy besluit om ook haar eie swemklub te begin.

“In 2018 het ek die swemklub oopgemaak met twee leerlinge. ‘n Jaar later kon ek ‘n span van nege swemmers vir die winterkampioenskappe inskryf en in 2021 was daar 24 J’s Aqua swemmers by die EGA Somer Kampioenskappe in Germiston.”

Junita rig verskeie skole in die Vaaldriehoek se swemmers af met uitstekende resultate.

“Elke kind is anders en ek benader elkeen anders. Hier weet hulle hul werk hard, maar ons het ook pret saam.

“Ons is soos ‘n familie en almal ondersteun mekaar. Die lekkerste vir my is om te sien hoe ‘n kind soms met hang skouers mismoedig hier instap en dan later moeg, maar met ‘n groot glimlag, hier uitstap,” beduie sy trots.

Van J’s Aqua se jonger swemmers voor hul les begin.

Die klub se leuse is: “Not to be the best, but to be better than the day before”.

Dit geld nie net vir die kampioenswemmers nie, maar ook vir die kleintjies wat leer swem.

Junita is baie trots op die vyfjariges wat maar die jaar begin swem het en reeds skop-skop die anderkant kan bereik.

Soos Rosie wat net op daardie stadium saam met haar ma en jonger sussie, Gracie (2) inkom.

Haar ma gee self vir Gracie les, maar Rosie kry by Junita les in die middae. “I’m six,” vertel sy, “and I can do the backstroke and freestyle.”

Sy loer na Junita se kant toe. “How many times did I swim across the pool last time?” “More than six times” sê Junita.

Die ogies rek, die skouertjies trek reguit, die kennetjie lig ‘n aks.

Sy kyk die vreemde tannie wat notas vat vierkantig in die oë en sê: “Wow. I did it more than six times.”

Net daar kan mens sien hoeveel respek en liefde is tussen hierdie afrigter en haar swemkroos. Hier word veel meer geleer as hoe om te swem. Hier word selfvertroue gebou en ‘n liefde vir die lewe gekweek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button