Dwelmverslawing: ‘Ek het die draak oorwin’
“Ek vertel nie my storie sodat iemand my moet jammer kry nie, ek vertel dit want ek weet almal kan daarmee relate.” En Edwin Haasbroek is reg, want sy dwelmverslawing is dalk jou werk, shopping, botox of gym-verslawing.
Edwin het intussen die stryd teen dwelmverslawing oorwin. Na ‘n program van 22 maande het hy besluit om verder te gaan leer. Hy wou meer weet en verstaan oor verslawing en antwoorde oor die “hoekom” kry.
Hy het die kursus in 2021 voltooi en is nou ‘n Advanced Addiction Counselor. Maar dit was ‘n lang pad tot hier.
Hier is sy storie: “Weet jy hoe dit voel om tussen honderde mense te staan en eensaam en alleen te voel? Om te voel dat die wêreld ‘n beter plek sonder jou sal wees? “Want ek weet hoe dit voel. Kniediep in my verslawing sien en doen ek goed wat voorheen ondenkbaar was.”
Edwin is in 1982 in die Evander Hospitaal gebore. Hy het twee jonger broers en liefdevolle ouers. Hulle is nou reeds meer as 40 jaar getroud. “Wat ‘n voorbeeld!
Ek is so lief vir my gesin en my kinderjare in Secunda was magic …. BMX gery saam die pelle, krieket en tennis in die straat gejol en toktokkie was aan die orde van die dag.”
Maar toe breek sy hoërskoolloopbaan aan: “Nuwe mense, nuwe onnies, ontgroening met ‘n vrot aartappel om my nek, en ewe skielik second guess ek myself en my menswees, my abilities… sommer net alles.”
Hy begin in graad 10 drink en in graad 11 gaan koop hy vir die eerste keer acid by ‘n dealer om wetenskap “beter te verstaan”. Daarna begin hy by plekke uithang waarteen hy al die jare gewaarsku was.
“Dis lekker, want hier voel ek accepted. Niemand hier vra wat my wiskunde punte is nie, niemand hier worry oor toelating tot ‘n universiteit nie.” Hy slaag matriek en in 2001 gaan al sy pelle Pretoria of Johannesburg toe om verder te gaan swot. Edwin begin as ‘n kontrakteur by Sasol werk.
“Intussen is my addiction stadig maar seker besig om die beste van my te kry. Ek begin met Cocaine en ander tipe dwelms eksperimenteer.
“Ek lewe ‘n dubbel lewe, by die werk en tussen my familie is ek een mens. Weg van hulle voer ek die donker draak op my skouer met alles wat so verkeerd, maar tog so flippen lekker is.”
Stadig maar seker begin sy vriende hul rug op hom draai, want hulle sien hy is besig om homself te vernietig. In 2014 verloor hy sy werk by Sasol. “Ek het daarmee saam alles verloor – vriende, familie, respek en selfvertroue.
Dis toe dat hy vir die eerste keer Crystal Meth probeer “en dit is baie beter as die ander goed wat ek gebruik. Dit laat my vergeet. Ek moet dit gebruik om ‘normaal’ te voel.
Ek is reguit op pad hel toe, one way ticket, en ek love dit, want ten minste voel ek okay.” Hy verbreek kontak met sy familie in so ‘n mate dat sy ouers hom as vermis aangee.
Hulle is siek van bekommernis terwyl Edwin in crack houses kuier saam met mense met dieselfde belangstellings as hy. “Ek spandeer tyd op straat. Ek dink nie reg nie, ek lyk sleg!”
En Edwin neem ‘n besluit: “Ek kan nie so aangaan nie, ek kort hulp.” Verslawing gebeur maklik, maar recovery is bitter moeilik. “Dit was die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen. Maar ek het die 22 maande se program gedoen en die draak oorwin.

“God het my gered. Elke dag skoon en nugter is ‘n goeie dag, baie beter as ‘n goeie dag met dwelms. “Ek is so bitter jammer vir al die hartseer wat ek veroorsaak het. Eendag sal ek myself heeltemal kan vergewe.”
Danksy sy nuwe lewe het hy iemand baie spesiaal ontmoet. Hulle gaan op 27 April voor die kansel staan. “Ek het steeds dae wat ek onseker voel oor myself, maar ek glo dat almal maar tog soms so voel. Maar ek het nie nodig om “iets” daaarvoor te gebruik nie. “
En vir die een wat hier lees en self besig is om te sukkel, vir jou wil ek sê: Ek weet hoe jy voel, alles gaan okay wees.”
* Edwin werk tans voltyds, maar het intussen besef dat hy ‘n voorliefde vir houtwerk het en goed is daarmee. Sy kunstige handewerk is te koop. Kontak hom gerus via WhatsApp by 063 561 7102 (opvangs vir gewone selfoonoproep is ongelukkig swak).




