Rudi Claase binnekort by Vereeniging Barnyard
VEREENIGING. - As jy nie weet wie Rudi Claase is nie, sou jy al vir seker een of meer van sy liedjies gehoor het, want hy spog met 700 Afrikaanse- en Engelse treffers wat al uit sy pen gevloei het.

Die talentvolle oud-Valie tree op 2 April by die Barnyard in Vereeniging op. Min skrywers kan spog dat hulle werk internasionale platforms bereik het. Baie van Rudi se liedjies word in Nederland en Duits vertaal.
“Die grootste sukses hiervan is die Nederlandse sangsensasie, Belinda Kinnaer, wat my lied, ‘Sewe Oseane’ in Nederland vrygestel het.
Dit was ‘n direkte vertaling en het gou nommer een behaal,” vertel die sanger trots. Hy het ook saam met haar in Nederland getoer.
Rudi se nuutste album, wat heel gepas “Liedjieskrywer” heet, was ‘n kommersiële sukses en vorm deel van sy vertoning “Van my wysie af” waarmee hy tans deur die land toer.
Met liedjies soos Tussen woorde, Sewe Oseane, Engele, Pêrels, As ek sing en nog vele meer, hoop Rudi om in die vertoning “Van my wysie af” mense op ‘n reis in sy persoonlike lewe te neem.

Dié konsert bied egter heelwat meer as net ‘n sanger wat op ‘n verhoog klim en van sy treffers sing wat hy geskryf het
Hy gaan staaltjies deel van hoe die liedjies geskryf is en waar dit vandaan kom.
“Ek vier hierdie jaar my 21ste jaar in die musiekbedryf en ek vier die goed, die sleg, die vreemd en die ontnugtering,” vertel die sanger.
Hy maak ook geen geheim daarvan dat hy self met bipolêre gemoedsversteuring sukkel nie en was al verskeie kere in die media hieroor.
“Depressie is niks om oor skaam te wees nie. Reik uit, praat met iemand. Om in stilte te ly is nie die antwoord nie.”
Rudi hoop om ‘n nuwe wysie van hoop in elke hart te plaas wat dit bywoon.
* Rudi se vertoning by die Barnyard in Vereeniging begin die aand om 19:00 en kaartjies kos R120 per persoon. Vir meer besonderhede, kontak Suzette by sue@rudiclaase.com of 082 416 8204.

