Plaaslike sirkuseienaar in trane oor bewerings van ‘dieremishandeling’
David McLaren, eienaar van die McLaren Sirkus in Meyerton was Sondagaand tydens 'n episode van Carte Blance in trane oor bewerings dat hy sy sirkusdiere mishandel.
“Ek kan verstaan dat mense ongelukkig is oor sekere dinge omdat hulle nie daarvan hou nie, maar dit beteken nie noodwendig jy is ’n mishandelaar van diere nie. Hoekom sou ek opstaan en my hele volwasse lewe spandeer deur diere te mishandel? Dit maak net nie sin nie.”

Só wou David McLaren, eienaar van die McLaren Sirkus, Sondagaand (2022/03/28) tranerig op die ’n ondersoekende TV-program Carte Blanche weet met sy wit Maltese poedel in sy regterhand.
(Die einste poedel, wat glo jare gelde deur McLaren gered is, was glo een van sy sirkus se eerste diere).
Die McLaren Sirkus is Suid-Afrika se laaste tradisionele sirkus en is in die Midvaal-omgewing gebaseer.
Die sirkus gebruik tiere, leeus, kamele, honde, perde, alligators en luislange in hul vertonings en het die afgelope tyd toenemend onder die skoot van diereregte aktiviste gekom oor hul gebruik van diere in vertonings.
Hoewel die gebruik van diere in sirkusse reeds in verskeie lande verbied word is dit steeds wettig in Suid-Afrika.

Tim Philips, mede-stigter van Animal Defenders International (ADI), ’n organisasie wat sedert die negentigerjare diere red, meen die hokke waarin McLaren se leeus en tiere gehou word is veels te klein en dat groot katte minstens ’n hektaar nodig het om in te beweeg.
McLaren hou vol die kampe waar die leeus aangehou word is wel groot genoeg en dat die diere se afrigter Quinton Louw hulle gereeld oefening gee.
Philips het op die program ook verduidelik dat sirkusdiere dikwels oor ’n tydperk van jare ingebreek word deur hulle van kos te ontneem en hulle aan geweld en intimidasie te onderwerp.
Hy het egter benadruk dat hy nie spesifiek kan sê hoe McLaren se diere opgelei word nie.
“Al wat ek kan sê is dat by al die sirkusse wat ons al besoek het geweld en intimidasie gebruik is (om die diere se gedrag te reguleer), want as die diere op mense draai kan hulle jou doodmaak. Jy moet ’n mal mens wees om nie die dier bang genoeg te maak sodat hulle dit nie probeer nie,” het Philips gesê.

McLaren sê daar is geen geweld betrokke nie en dat die diere opgelei word deur ’n tegniek genaamd “positive reinforcement”, waardeur hulle met kos beloon word vir goeie gedrag.
Smaragda Louw, stiger van Ban Animal Trading, wat gereeld kritiek teenoor die McLaren Sirkus uitspreek, het op die program gesê wilde diere hoort nie in sirkusse nie en dat die gebruik van diere by sirkusse die indruk by kinders wek dat mense verhewe bo diere is.
Daar heers tans ’n debat oor of diere in sirkusse toegelaat behoort te word of nie.
McLaren het op die program gesê hy is lief vir sy diere en dat hy vir hulle sorg.
*Indien jy Sondagaand se episode van Carte Blanche misgeloop het kan jy dit op DStv Catch Up kyk by: https://bit.ly/3edx58V
Dit sal in die komende weke op Carte Blanche se webtuiste beskikbaar gestel word.
Jy kan ook op hulle YouTube kanaal inteken vir ou episodes by: https://www.youtube.com/channel/UCW67mIQxNQ3G2AHffz8Bvvw

