50 reiers wat langs Vaalrivier gered is vrygelaat
Hy het in Januarie vir 20 uur lank aan 'n boom vasgeklou nadat sy kajak in die Vaalrivier omgeslaan het. Verlede week was hy terug by die Vaalrivier.
DENEYSVILLE. – ‘n Diereredder wat in Januarie vir meer as 20 uur aan ‘n boom in die middel van die Vaalrivier moes vasklou nadat sy kajak omgeslaan het en hy deur vloedwaters meegesleur is, was Dinsdag, 22 Maart terug by die Vaalrivier om voëls wat hy vroeër help red het, vry te laat.
Dirk Engelbrecht, natuurredder en uitvoerende hoof van die organisasie Wild Serve, was op 3 Januarie deel van ‘n groep natuurreders wat kuikens en eiers langs die rivier probeer red het. Dit is gedoen nadat ‘n aantal sluise by die Vaaldam oopgetrek is en stygende watervlakke voëls wat nes langs die rivier gemaak het, bedreig het.

Engelbrecht se kajak het omgeslaan en hy het vir ‘n aand in ‘n boom in die middel van die Vaalrivier vasgesit. Hy is die volgende oggend deur lewensredders van die Nasionale Seereddingsinstituut gered, maar hy en ander natuurredders kon heelwat kuikens en eiers op die dag red.

Nadat heelwat van die dam se sluise weer toegetrek is en watervlakke aansienlik gedaal het, het Engelbrecht Dinsdag, 22 Maart saam met Vaughn Veale van die Suid-Afrikaanse Wildlewe Rehabilitasiesentrum die Willow Creek-oord langs die Vaalrivier besoek om sowat 50 vee-reiers (Bubulcus ibis) in die natuur vry te laat.

Volgens Veale sluit dit kuikens in wat in Januarie langs die rivier gered is, sowel as eiers wat intussen uitgebroei het. Die voëls en eiers is vroeër vanjaar na rehabilitasiesentrums geneem en was gereed om losgelaat te word.

Die voëls het vir ‘n paar sekondes gehuiwer toe die hokkies oopgemaak is, maar kort voor lank weggevlieg om aan te sluit by die swerm voëls wat nes gemaak het in wilgebome op ‘n eiland in die Vaalrivier.

Volgens Engelbrecht is die vee-reiers sosiale diere en behoort dit maklik te wees vir die jong voëls om deel van die swerm te word. Engelbrecht meen die sirkel is nou voltooi.

“Dit is lekker om die vrugte van ons harde werk te pluk. Ons werk in ‘n industrie waar ons vrywillige werk doen en hierdie is die soort belonings wat ons kry.

“Ons was verbaas oor die aantal kuikens wat oorleef het. Dit is verblydend dat ons ‘n generasie jong voëls kon red.”



